SPAR se Vroue-uitdaging in Kaapstad in Maart het weer eens twee plaaslike groepe gehelp om maandstonde-uitdagings in die gebied aan te pak.
Die Boland-veteraankrieketvereniging (BVCA) het die derde jaar agtereenvolgens ‘n groot skenking van SPAR se Petals- sanitêre doekies deur hul waardigheidsprojek ontvang. Hierdie jaar het Against Period Poverty (APP) ook aange- sluit en doekies ontvang.
Die krieketvereniging het R100 000 se sanitêre doekies ontvang, terwyl APP met R30 000 se doekies weggestap het, plus twee doekiehouers ter waarde van R75 000.
Wat veral interessant is, is dat BVCA meestal uit manlike krieketspelers bestaan, wat werklik passievol is oor die hulp aan meisies om dieselfde geleent- hede in krieket en die lewe te kry.
James Albanie, wat die BVCA-waardig- heidsprojek bestuur, was duidelik geraak deur die skenking. “Die invloed van SPAR se hulp in ons gemeenskappe was ongelooflik. Ons help nie net meisies om in die skool te bly nie – ons moedig ook ‘n gesonde leefstyl aan,” het hy gesê.
Die vrywilligers het nie tyd gemors om die doekies uit te deel aan diegene wat dit die nodigste het nie. “Hulle het vir ons gewag. Ons netwerk is sterk. Dankie vir jul vertroue,” het James laat weet.
APP is deur Lindsay Adams begin, wat daarop uit is om seker te maak tienermeisies loop nie skool mis net omdat hulle nie sanitêre produkte kan bekostig nie. Lindsay is daarop gefokus om die verleentheid weens menstruasie af te breek en glo “om selfs een meisie te help, herstel haar waardigheid en skep geleenthede”.
“Ons is so dankbaar vir SPAR se vrygewige skenking,” het Lindsay gesê. “Dit beteken ons kan nou meer as 15 skole op die Kaapse Vlakte help.”
SPAR Wes-Kaap se advertensiebestuurder, Elsabe van Zyl-Felix, het by die onlangse oorhandiging albei organisasies bedank dat hulle deel van die reis is. “Saam hardloop ons na ‘n meer bemagtigde toekoms!” het sy gesê.





