Drome lê aan skerwe en die geloofwaardigheid van ‘n jeug-organisasie sonder winsbejag is in gedrang nadat ‘n inwoner van Abbotsdale, veral bekend in jeug- en liefdadigheidskringe, om die bos gelei is.
Gavin Sampson, die direkteur van die Abbotsdale-jeugontwikkelingsorganisasie (AYDO) sedert 2024, is op 23 Mei deur die internasionale organisasie Global Engagement genader om ‘n beraad – die Global Youth Summit 2025 – by die Birmingham Universiteit in Dubai by te woon en die land te gaan verteenwoordig.
Die uitnodiging het gevolg nadat Sampson (29) in Januarie vanjaar ‘n advertensie op sosiale media raakgesien het vir ‘n geleentheid om sy organisasie te verteenwoordig. Hy het op die skakel geklik en alle inligting soos versoek op ‘n inskryf ingevul en aangestuur.
Nadat terugvoer uiteindelik in Mei ontvang is, gevolg deur twee aanlyn onderhoude met verteenwoordigers van die beraad, het Sampson die amptelike skrywe van sy deelname aan die beraad Woensdag 9 Julie ontvang. Die geleentheid sou volgens die brief van 15 tot 19 September plaasvind, waartydens Sampson ‘n voorlegging oor onder meer gemeenskapsprojekte en jeugbemagtiging in landelike gebiede sou voorlê.
Die skrywe lui: “Mnr. Sampson is uit ‘n poel jong wêreldvrye leiers gekies vir sy uitsonderlike werk in jeugleierskap, gemeenskapsbetrokkenheid en volhoubare ontwikkeling binne die Swartland-munisipaliteit.”
Hy moes Maandag 7 en Dinsdag 8 Julie ‘n voorlegging doen om vir die amptelike uitnodiging in aanmerking te kon kom. Sy reis- en verblyfkostes sou by die R20 000 beloop.
Intussen is vir finansiële bydraes gevra om sy kostes te help dek. Beplanning vir geldinsamelingsprojekte het ook reeds begin.
GROOT OPWINDING PLOF INEEN
Opwinding rondom die internasionale toer het ‘n vinnige nadraai geneem toe Sampson verlede week hoor die beraad het reeds in April vanjaar plaasgevind. Die skoknuus het gebreek nadat hy Donderdagoggend (10 Julie) vroeg besluit het om sy instink te volg en seker te maak dat die jeugberaad van sy bestaan bewus is.
Hy het telefonies met die direkteur van Global Engagement, Amina Al-Suwaidi, kontak gemaak, wat bevestig het hy is nooit na die beraad, wat verby is, genooi is nie.
‘n Verklaring deur AYDO is kort ná die skokkende onthulling uitgestuur om die plaaslike gemeenskap en ondersteuners oor die situasie in te lig en te vra dat geen betalings as ‘n bydrae tot reiskostes verder moet geskied nie. “Dit is duidelik dat iemand probeer het om Sampson te mislei,” lui die AYDO se verklaring.
Sampson het dieselfde oggend nog ‘n verklaring by die polisie afgelê om ‘n ondersoek aan die gang te kry teen die individu(e) wat hom glo onder valse voorwendsels in Dubai probeer kry het.
ONTSTOKE GEMEENSKAP
‘n Bom het rondom Sampson se kop gebars nadat lede van die gemeenskap oomblikke later hul stemme laat hoor en in ‘n WhatsApp-groep teenoor Sampson uitgevaar het.
Sampson meen foute en verkeerde besluite wat hy in sy verlede gemaak het, het ook weer die kop uitgesteek en word teen hom gehou. Volgens hom word hy nou uitgekryt as ‘n gewoontebedrieër.
Sampson hou vol dat hy voor die oproep na Al-Suwaidi nooit besef het hy word met ‘n slap riem gevang nie. “My hart is gebreek. Ek is geskok. Ek weet ek is die gesig van die organisasie, maar hierdie geleentheid het my uitgevang,” sê hy.
“Ek vra dat julle my sal vergewe. As ek nie self ondersoek ingestel het nie, sou ek tot vandag geglo het die geleentheid is waar en sou ek myself in gevaar gestel het.”
ONDERSTEUNING NA ONDERSOEK
Bradley Arendse, voorsitter van die AYDO, het op sy beurt ‘n brief uitgereik waarin hy sy opregte verskoning aanbied vir enige ongerief, verwarring en moontlike teleurstelling weens die onlangse voorval oor die sogenaamde uitnodiging na die internasionale jeugberaad.
“Na interne ondersoek deur die bestuur het dit aan die lig gekom dat die uitnodiging ongelukkig deel was van ‘n bedrogspul en dat met ons direkteur, Gavin Sampson, se goeie trou en opgewondenheid gepeuter is,” sê Arendse
Hy het in sy skrywe aan die Gazette beklemtoon dat Sampson geen bedrog gepleeg het nie. “Ons staan stewig agter hom en waardeer sy eerlikheid en sy besluit om die saak by die polisie aan te meld.”
Arendse sê hy is bewus dat die voorval skade aan die geloofwaardigheid van hul organisasie kan aanrig. “Daarom vra ek nederig vergifnis en begrip van elke individu, instansie en ondersteuner wat moontlik beïnvloed is. Ons leer hieruit en sal alles in ons vermoë doen om te voorkom dat so iets weer gebeur,” voeg hy by.
Arendse het bevestig dat geen geld deur die organisasie ontvang of vir reisverwante doeleindes aangewend is nie. “Ons doen ‘n beroep op enigiemand wat deur die voorval geraak is om ons te kontak sodat ons kan regmaak waar nodig.”
Hy het sy dankbaarheid teenoor inwoners se volgehoue ondersteuning, vertroue en geloof in die AYDO uitgespreek, wie se doel steeds is om hoop en groei onder die jeug van Abbotsdale aan te wakker.





