Janie du Plessis is die nuwe aanbieder van die vierde seisoen van die gewilde KykNET-werklikheidsreeks In die Sop.

Die TV-diens kykNET se gewilde werklikheidsreeks In die sop trek vir sy vierde seisoen ‘n ander baadjie met ‘n splinternuwe aanbieder aan.

Die fokus verskuif van restaurante na gastehuise in en om Kaapstad, in Gauteng en langs die N1-roete.

Raadop met stadige besprekings of keelvol vir klaende gaste? Is jou gaste- huis dalk in die sop?

Soms is dit net ‘n vars kennersoog wat nodig is om jou gastehuis weer winsgewend te maak en toe te sien dat gasvryheid weer sy regmatige plek saam met jou gelukkige gaste aan die vol hooftafel inneem. Hierdie is dalk net die reddingsboei wat jy nodig het.

Aan die stuur van sake is Janie du Plessis, daardie aanvallige rabbedoe wat in die 1980’s as aanbieder van gewilde joernaalprogramme vir jongmense – soos Teletien en Graffiti – op al wat ‘n tydskrifvoorblad is, gepryk het.

Sy was destyds saam met Arnold Vosloo in die trefferrolprente Boetie gaan border toe (1984) en Boetie op manoeuvers (1985) te sien. Janie het egter oor die afgelope 40 jaar een van die bekendste glanspersoonlikhede op televisie geword.

Dis egter nie net deftige onthale en “ligte, kameras en aksie” vir Janie nie. Sy’t ‘n goeie sakekop op haar skouers én sy het deeglike eerstehandse kennis van gastehuise.

Die afgelope tien jaar het sy die land met haar liefdadigheidswerk deurkruis, wat haar tot drie keer ‘n week in gastehuise laat beland het.

‘n Bekende lid van die In die sop-span, Misi Overturf, vorm die gedugte taakspan saam met Griki Lubbe, ‘n binnenshuise ontwerper in Kaapstad, en Willus Bosch, ‘n ervare opknapper, binneruimkenner en die eienaar van Maison Cape Town.

Dié drie gaan beurte maak met hulp aan die gastehuise.

Waarvoor wag jy? Daar’s mense wat wil kom kuier! Skryf só in:

• Besoek www.kyknet.tv of stuur e-pos na inskryf@indiesop.tv vir die inskrywingsvorm of nog inligting. Inskrywings sluit op 31 Julie en die reeks sal vroeg in 2026 uitgesaai word.

Misi Overturf is volgende jaar weer op die kassie te sien wanneer sy haar ontwerpersvernuf inspan om nuwe lewe in gastehuise te blaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article