Die reeds bekroonde huiskokke Louis Janse van Vuuren en Isabella Niehaus van Riebeek-Kasteel het verlede week in Portugal ‘n prys vir hul nuwe kookboek, Skepselkos, ontvang.

Gelukwensinge stroom op sosiale media in nadat dit aan die lig gekom het dat Skepselkos, ‘n plantgebaseerde kookboek al die pad vanuit Riebeek-Kasteel, ‘n gesogte internasionale prys in Estoril, Portugal, gewen het.

Die baasbreine agter die kookboek Skepselkos (sy Engelse weergawe word Earthling Food genoem) en bekroonde huiskokke uit die vallei, Isabella Niehaus en Louis Jansen van Vuuren, het tussen 18 en 21 Junie die Gourmand-wêreldkookboek-prysuitdeling in die Centro de Congressos do Estoril, Lissabon, bygewoon om die prys te ontvang.

Daar het hul kookboek ‘n eerste plek onder die strengvegetariese kookboeke ter wêreld opgeraap.

Dit is ook nie die eerste keer dat Niehaus en Jansen van Vuuren se kookboek met die louere wegstap nie. Hul vorige kookboek, There’s a Vegan on my Verandah, is in 2023 as die wenner van die beste strengvegetariese kookboek by die Gourmand wêreldkookboek-prysuitdeling aangewys.

Met hul nuwe boek het Niehaus en Jansen van Vuuren wéér hul vernuf vir unieke plantgebaseerde resepte saamgesnoer en tien vriende en kosliefhebbers uitgenooi om die reis saam met hulle aan te pak.

“Lesers sal geïnspireer word deur die stories en resepte wat ‘n waardering vir plantgebaseerde kos skep. Alles is toeganklik met alledaagse bestanddele wat beskikbaar is,” sê hul uitgewer, Naledi Books.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article