Planttyd in dele van die Weskus is tydelik uitgestel weens nat lande ná hewige reën. Foto ter illustraisie: Lourens Louw
Planttyd in dele van die Weskus is tydelik uitgestel weens nat lande ná hewige reën. Foto ter illustraisie: Lourens Louw

Swaar reën plaas Weskus-boere onder druk, belemmer planttyd

Planttyd in dele van die Weskus is tydelik uitgestel weens nat lande ná hewige reën. Foto ter illustraisie: Lourens Louw
Planttyd in dele van die Weskus is tydelik uitgestel weens nat lande ná hewige reën. Foto ter illustraisie: Lourens Louw

Die swaar reën en wind van die afgelope paar dae hou groot uitdagings vir boere in die Weskus-streek in, met lande wat onder water staan, planttyd wat verlore gaan en vrese oor verdere vloedskade langs die Bergrivier.

Só sê SP Tredoux, streeksbestuurder van Agri Wes-Kaap in die Weskus-streek. Volgens hom is boere tans besig om slote te grawe om water uit lande weg te lei, veral waar gewasse reeds geplant is.

“Almal maak planne om die water weg te lei. In die sanderige gronde is dit nie so groot probleem nie – daar sal ouens wees wat al vandag weer kan plant, maar in kleierige grond gaan dit ‘n moeiliker taak wees. Trekkers val weg en die grond word nie vinnig genoeg droog nie,” sê hy.

Hy meen die nat toestande kan ‘n invloed hê op hoeveel hektaar geplant word, aangesien planttyd beperk is.

“In gebiede soos Porterville weet sommige boere nie hoe hulle gaan plant nie. As die lande nie betyds droog word nie, verloor hulle kosbare plantdae. Hoewel die reën broodnodig is, kom die vloedwater vroeër as gewoonlik vanjaar.”Volgens Tredoux is die grond nog nie heeltemal versadig nie, wat help dat water vinniger wegtrek, maar die situasie bly uitdagend.

Langs die Bergrivier is daar ook groot kommer oor stygende watervlakke.Tredoux sê nuwe waterhoogtes is reeds in dele van die Paarl-gebied bereik en dat die water binne dae ‘n groot impak stroomaf op Velddrif kan hê.”Ons is bekommerd oor die springgety by Velddrif. Al daai water kom nog af en die Paarl se water vat nog drie tot vier dae voordat die volle effek hier gevoel gaan word,” verduidelik hy.

Die swaar reën en wind van die afgelope paar dae hou groot uitdagings vir boere in die Weskus-streek in.
Die koring begin sy kop uitsteek op ‘n plaas in die Riebeek-vallei, met water wat nog plek-plek sigbaar is. Geen walle het hier oorgeloop met die onlangse reën nie. Foto: Lodewyk Lesch

“Vakansieverblyf langs die rivier is reeds geraak, met sommige besprekings wat gekanselleer is.Boere en inwoners moes ook pompe, drywende jetties en ander toerusting uit gevaargebiede verwyder.Volgens Tredoux het die oorstromings ook ‘n groot invloed op vee en weiding.”Gewoonlik loop diere hierdie tyd van die jaar nog onder in die vleie. Dit is nog nie rêrig die tyd wat die rivier moet vloed nie, so dit het ‘n groot effek op die diere en die weidings.”

Hy waarsku dat die gevolge van die huidige weerstoestande waarskynlik nog vir weke in die landbousektor gevoel gaan word.

“Op die langtermyn gaan dit definitief ‘n negatiewe impak op die landbou hê.”

Uit die Swartland berig Charlotte Lesch dat te midde van verhoogde insetkostes, insluitend kunsmis en stygende dieselpryse weens die voortslepende konflik in die Midde-Ooste en ‘n dalende koringprys, hou die nat toestande graanboere uit hul landerye.

Planttyd in die Wes-Kaap het vanjaar in gunstige omstandighede weggespring soos vroeë reën in April ervaar is. Die afgelope paar dae se stormweer beteken planttyd word vir nou uitgestel. Gielie Bester, voorsitter van die Agri Malmesbury se koringstudiegroep is saam met lede dit eens dat die reën nie net uit ‘n negatiewe oogpunt beskou moet word nie.

“Dis nie die eerste keer dat ons so baie reën kry nie en dit sal ook nie die laaste keer wees nie. Ons plant datums sal wel aanskuif, want ons weet nie wanneer ons weer in die kampe sal kan kom nie,” brei hy uit.

Volgens hom is daar wel ‘n moontlikheid dat vooropkomsmiddels wat vir onkruid gespuit is, kan uitloog en minder effektief sal werk. “Aan die ander kant sal die gronde wat nog geplant moet word, se onkruide goed ontkiem, opkom en ons sal hulle effektiek kan doodspuit.”

Hy meen geplante weidings sal ook vroeër opkom, wat sal help met loopspasie vir die diere later in die seisoen.

LEES OOK: KYK | Bergrivier se watervlak styg in Velddrif: Bokkomlaan hou asem op

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article