BLOEMFONTEIN – Skote klink vanoggend op vanaf die Generaal De Wet-skietbaan op De Brug buite Bloemfontein waar die Suid-Afrikaanse Bisley-unie se Nasionale Langafstand-skietkampioenskap plaasvind.
Skuts van oor die land heen, insluitende die 16 Protea-skuts wat binnekort in Engeland aan die wêreldbyeenkoms gaan deelneem, meet die naweek op die skietbaan kragte.
Die verrigtinge het Donderdag 2 Julie begin en die prysuitdeling vind vanaand (Saterdag 4 Julie) plaas.

Protea-span
Onder die 16 Protea-skuts is die Bloemfonteiner Joe Deetlefs van die Bloemfontein Militêre Bisley-klub.
Hy sê die skietbaan op De Brug waar hul kampioenskap die naweek plaasvind, is een van die drie grootstes in die wêreld. Die ander twee bane van hierdie grootte, is in Amerika.
“Die vorige wêreldbyeenkoms in 2023 is op hierdie baan aangebied. Dit is vir ons ‘n voorreg om hier op die Generaal De Wet-skietbaan te kan deelneem.”

Die Protea-span het in 2023 die spankompetisie gewen en Hermann Rolfes is ook in 2023 as die wêreldkampioen in die F TR-klas (teikenskiet met ‘n teleskoop) aangewys.
Rolfes, wat ook die naweek aan die kompetisie op De Brug deelneem, is ingesluit in die Protea-span en gaan sy titel op die kompetisie van 10 tot 16 Augustus in Bisley, Engeland, verderdig.
Titel verdedig
Henk Venter, kaptein van die Protea-span, sê die naweek se kampioenskap waar skuts van oor Suid-Afrika heen meeding, dien terselfdertyd as ‘n oefenkamp vir die nasionale span.
Hy sê die Suid-Afrikaners gaan voor die wêreldkampioenskap eers van 3 tot 8 Augustus aan die Britse F-klas Ope deelneem.
“Dit sal ons skuts baie help om aan die baan waarop die wêreldkampioenskap plaasvind, gewoond te raak.”
Venter sê elke baan is uniek en bied sy eie uitdagings. Daarom dat die Britse kompetsie vir die span baie waardevolle oefening sal bied.
Nie net gaan Rolfes baie internasionale teenstand op die skietbaan hê as hy sy titel moet verdedig nie, maar uit eie geledere is daar ook sterk kompetisie.
Een van die twee vroue in die Protea-span Natie Borrett du Plooy van Benonie, het van 11 tot 18 April in Vereeniging op die Suid-Afrikaanse Bisley Ope die F-TR-klas gewen.
Op dié kampioenskappe het Borrett Du Plooy 15 afdelings gewen.
Die naweek se langastand-kampioenskappe is oor die afstande 700m, 800m en 900m.







You must be logged in to post a comment.