BLOEMFONTEIN – Die twee eerste hokkiespanne van die Hoër Meisieskool Oranje en Eunice High School daag mekaar behoorlik uit met elke wedstryd wat toeskouers op die punte van hul stoele hou.
Kort ná die naelbytstryd Dinsdag 5 Augustus waarin Oranje 2-1 gewen het, het Eunice vandag die oorhand gekry in die twee spanne se wedstryd in die Fairtree Super 12 wat van 7 tot 10 Augustus by Oranje plaasvind. Eunice het Oranje op die eerste dag van die toernooi 2-1 gewen.
Oranje het Dinsdag geseëvier in die stryd in die stadsliga, maar wie die wedstryd sou wen, was tot op die heel laaste in die weegskaal met albei spanne wat uitstekende spel gewer het.
Albei skole gaan hard baklei om die kroon in die Fairtree Super 12, nadat Renish verlede jaar die toernooi gewen het.
Oranje was die wenners in 2022, 2019, 2017, 2016, 2015 en 2014 en Eunice het in 2023 die toernooi gewen.
In 2023 het Eunice nie een wedstryd in die toernooi verloor nie, en dieselfde met Orane wat in 2015 en 2016 onoorwonne was.
Talle van die land se top-spelers is die week op die hokkieveld in aksie.
Die spanne wat aan die toernooi deelneem, van eerste tot die 12de plek op die nasionale ranglys, is:
- Rhenish Girls’ High (Stellenbosch) – eerste
- Diocesan School for Girls (Makhanda) – 2de
- Paarl Gimnasium (Paarl) -3de
- Eunice High School (Bloemfontein) – 4de
- Hoër Meisieskool Oranje (Bloemfontein) – 5de
- Collegiate Girls’ High (Gqeberha) – 6de
- Die Hoërskool Menlopark (Pretoria) – 7de
- Hoër Meisieskool Bloemhof (Stellenbosch) – 8ste
- Hoërskool Waterkloof (Pretoria) – 9de
- Our Lady of Fatima Dominican Convent School (Durban) – 10de
- St Anne’s Diocesan College (Hilton) – 11de
- St Mary’s Kloof (Kloof) – 12de



