Die 2023 CH14-rooiwyn vereer Cornal Hendricks en is by die Diemersfontein-wynlandgoed in Wellington gemaak en gebottel. Foto: Rasaad Adams
‘n Rooiwyn ter ere van Cornal Hendricks is onlangs bekendgestel. FOTO: Rasaad Adams

Die Cornal Hendricks-stigting het die afgelope Maandag (27 Oktober) ‘n Cabernet Franc-rooiwyn ter viering van dié ontslape rugbylegende se lewe bekendgestel.

Die opbrengs van die wyn se verkope sal onder meer aangewend word om ‘n rugby-akademie in Wellington op die been te bring.

Wat dit selfs nog meer spesiaal maak, is die feit dat hierdie wyn by die Diemersfontein-wynlandgoed in Wellington onder leiding van die wynmaker Lauren Hulsman gemaak en gebottel is.

Hendricks was ‘n voormalige Springbok-vleuel wat voor sy afsterwe op 14 Mei vanjaar ook vir die Bulle uitgedraf het.

Hy het in 2008 sy buiging in professionele rugby gemaak toe hy ‘n kontrak met die Boland Kavaliers aangegaan het.

Voor dit het hy vir onder meer vir die plaaslike rugbyklub Roses United gespeel.

“Ons het sowat ‘n week ná sy begrafnis uitgevind dat hy ‘tenke’ vol wyn het. Cornal is nou vyf maande nie meer met ons nie en dit het ons drie maande gevat om hierdie produk vandag voor te sit.

“Cornal se droom was altyd om ‘n sport-akademie in Wellington op die been te bring – nêrens anders nie; net in Wellington.

Die Cornal Hendricks-stigting het die afgelope Maandag (27 Oktober) 'n Cabernet Franc-rooiwyn ter viering van dié ontslape rugbylegende se lewe bekendgestel.
Ter ere van die ontslape Cornal Hendricks, het die Cornal Hendricks-stigting ‘n Cabernet Franc-rooiwyn ter viering van dié rugbylegende se lewe bekendgestel. Die opbrengs van die wyn se verkope sal onder meer aangewend word om ‘n rugby-akademie in Wellington op die been te bring. FOTO: AFP

“Die groot rede agter hierdie CH14-wyn is dus vir ons om genoeg geld in te samel en nuwe terrein vir die akademie in Wellington te ontgin,” het Hanri van Wyk, wat aan die Cornal Hendricks-stigting verbonde is, by Maandag se bekendstelling in Stellenbosch gesê.

‘n Emosionele Stephaney Hendricks, sy weduwee, kon Maandagaand nie haar trane terughou toe sy vertel oor wat die oomblik vir haar ontslape man sou beteken het nie.

“Dié wat Cornal geken het, sal weet met hom was enige dag ‘n rede vir feesviering met goeie wyn en goeie geselskap om die vuur,” het sy gesê.

Cornal Hendricks se vrou Stephaney aan die woord by Maandag se bekendstelling. Foto: Rasaad Adams
Cornal Hendricks se vrou Stephaney aan die woord by Maandag se bekendstelling. Foto: Rasaad Adams

Shafiek Mouton, ook van die Cornal Hendricks-stigting, het op sy beurt gesê Hendricks sou trots wees om hierdie eerste stap in die stigting van die rugby-akademie te kon beleef.

“Hierdie seun van die Payton het vandag ‘n wyn, wat na hom vernoem is, met sy handtekening op. En as ons sy nalenskap wil vereer, kan ons nie net daaroor wil praat nie.

“Vir Cornal was wyn, musiek en vuur die perfekte kombinasie. Die musiek het regtig alles goed saamgebring.

“Kom ons gaan versprei die woord oor hierdie inisiatief om sodoende sy droom te verwensenlik.”

Die wyn, wat as CH14 bekendstaan, is op Diemersfontein se webtuiste te koop.

Die CH verwys natuurlik na Cornal Hendricks en die 14 is ‘n verwysing na die nommer 14-rugbytrui en Hendricks se posisie as regtervleuel.

You need to be Logged In to leave a comment.