Die skoolhoof wat tans in die Stellenbosch-hof verskyn in verband met ‘n klagte van seksuele aanranding, het uitgetree.
Volgens die Wes-Kaapse Onderwysdepartment (WKOD) het die betrokke hoof van ‘n Stellenbosch-laerskool op Dinsdag 31 Maart amptelik afgetree. Die skoolhoof is deur ‘n voormalige kollega van seksuele aanranding beskuldig ná ‘n insident wat glo verlede Desember tydens die skool se jaareindgeleentheid plaasgevind het. Die klaer het die department dieselfde maand ingelig en ‘n interne ondersoek is van stapel gestuur.
Millicent Merton, ‘n woordvoerder van die WKOD, het vandeesweek bevestig die hoof is aanvanklik op verlof geplaas waarna hy as voorsorgmaatreël geskors was.
Eikestadnuus verneem hoewel interne ontmoetings tussen die betrokke partye vroeër vanjaar moes geskied, is die sessies verskeie kere uitgestel nadat die hoof se verteenwoordiger aangedui hy kon nie die geleentehede bywoon nie as gevolg van sy gesondheid.
Die skoolgemeenskap sal, volgens die departement, met die aanvang van die tweede kwartaal deur die plaaslike kringbestuurder van die hoof se aftrede in kennisgestel word.
Intussen is hofverrigtinge steeds aan die gang. Die staat het tydens die vorige hofverskyning gesê verdere ondersoek word gedoen. Die beskuldigde was nie teenwoordig nie weens sy gesondheid, het hy by monde van sy regsverteenwoordiger laat weet.
Die saak is tot Woensdag 13 Mei uitgestel.





