FRANKFORT, Mafube- Die onwettige optrede van stakende werkers en vakbonde in die Mafube-plaaslike munisipaliteit (Cornelia, Frankfort, Tweeling, Villiers) wat nou al vir bykans ’n week dienslewering tot stilstand dwing, word ten sterkste oordeel.
Munisipale geboue is onwettig met kettings en slotte gesluit en ’n kennisgewing is aangebring dat geen dienste gelewer sal word nie.
Dit het veroorsaak dat inwoners voor geslote deure beland het wanneer hulle munisipale rekeninge wou betaal of navrae wou doen.
Die VF Plus het in die teenwoordigheid van die munisipale bestuurder, Jamela Selapyane, ingegryp en die slotte en onwettige kennisgewing verwyder sodat inwoners weer toegang tot die munisipale kantore kon kry. Ten spyte daarvan weier werkers steeds om dienste te lewer.
Daar is ook bewerings dat werkers glo uit ‘n voertuig geruk en geïntimideer is deur stakende werkers toe hulle dringende herstelwerk aan waterpype wou doen.

Dit is onaanvaarbaar dat gemeenskappe gyselaar gehou word terwyl basiese dienslewering tot stilstand gebring word.
Die kern van Mafube se probleme lê by die munisipaliteit se finansiële en rekeningafdeling wat reeds jare lank wanfunksioneel is, asook jarelange algemene wanbestuur en onbevoegdheid van die ANC.
Munisipale rekeninge word nie uitgestuur nie, data op rekeninge is foutief en wanneer inwoners foute aanmeld, word dit dikwels nie reggestel nie.
Hierdie wanadministrasie het daartoe gelei dat die munisipaliteit se invorderingskoers tot slegs sowat 9% gedaal het, selfs toe werkers nog hul pligte nagekom het.
Mafube is reeds sedert 2017 onder administrasie, maar swak bestuur en vakbondinvloed binne die munisipaliteit bly ’n groot struikelblok vir behoorlike dienslewering.
Die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering, mnr. Saki Mokoena, het reeds erken dat vakbonde ’n ernstige probleem in Mafube is. Die VF Plus het hom genader en sal hom hou by sy belofte om ’n dringende oorsigbesoek aan Mafube te bring.
Die party sal ook deur sy betrokke lid van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) ‘n versoek rig tot die NRP se portefeuljekomitee vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) om ’n besoek aan die munisipaliteit te bring.
Mafube se inwoners kan nie langer gyselaar gehou word deur swak bestuur en vakbondpolitiek terwyl basiese dienslewering in duie stort nie.






You must be logged in to post a comment.