FRANKFORT – Munisipale werkers van Mafube Plaaslike Munisipaliteit het weer hierdie maand gestaak omdat hul salarisse vir die tweede maand nie uitbetaal is nie.
“Aanduidings is daar dat dit moontlik ook volgende maand sal gebeur weens die Nasionale Tesourie (NT) se weerhouding van fondse,” sê Joep Marais, VF Plus-raadslid vir Mafube Plaaslike Munisipaliteit.
Gewelddadige proteste
Woedende werkers het Donderdag, 11 Desember, stapels buitebande buite die munisipaliteit aan die brand gesteek.
Die NT het die munisipaliteit se billike deel opgeskort weens die munisipaliteit se versuim om die vereiste verslae in te dien. Dit sluit in die Munisipale Openbare Rekeningekomitee (MPAC)-verslag, die verslag oor onreëlmatige, ongemagtigde, vrugtelose en verspilde uitgawes, asook die dissiplinêre aanbevelings ingevolge artikel 74 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA).

Dienslewering gestaak
Vakbonde het aangekondig dat alle dienslewering gestaak word. Dit beteken inwoners van Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling gaan oor die feesseisoen sonder water en basiese dienste sit.
Dit gebeur terwyl Mafube reeds onder provinsiale administrasie is—’n duidelike bewys dat die Vrystaatse regering nie in staat is om ‘n munisipaliteit te stabiliseer of te bestuur nie.
Die VF Plus het die Vrystaatse departemente van Finansies en Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA) herhaaldelik gewaarsku dat Mafube op die rand van totale ineenstorting staan en nie aan die nodige wetlike voorskrifte voldoen nie, wat juis kan lei tot die weerhouding van fondse deur die NT.
ANC-wanbestuur
Die ANC het Mafube op die ergste moontlike manier gefaal en het eenvoudig nie die vermoë om sy eie wanbestuur reg te stel nie.
Die VF Plus het intussen die Vrystaatse LUR van CoGTA, Saki Mokoena, genader vir onmiddellike ingryping.
Hy het onderneem om met die NT tot ‘n vergelyk te probeer kom, maar die werklikheid is dat net ‘n nuwe regering Mafube en sy inwoners uit hierdie krisis kan red.






You must be logged in to post a comment.