Springbok afrigter Rassie Erasmus en sy span het veilig in Auckland aangekom en sien uit na hul twee kragmetings teen die All Blacks.
Springbok afrigter Rassie Erasmus en sy span het veilig in Auckland aangekom en sien uit na hul twee kragmetings teen die All Blacks. Credit: Wynette King

Die Springbokke het Woensdagaand (Nieu-Seeland-tyd) in Auckland aangekom in hoë luim en opgewonde oor die uitdaging om hul aartsvyande, die All Blacks, in twee agtereenvolgende kragmetings in die Castle Lager Rugbykampioenskap oor die volgende drie weke in die gesig te staar.

Die Bokke het die lang reis van Suid-Afrika na Auckland Dinsdag via Sydney gemaak, en sal Donderdag ‘n gimnasiumsessie en herstel-dag hê voordat hulle Vrydag hul eerste oefensessie sal aanpak.

Die Bokke se eerste kragmeting teen die All Blacks by Eden Park vindplaas op Saterdag 6 September , en ‘n week later weer op 13 September by die Sky-stadion in Wellington.

Daarna is dit terug na Suid-Afrika om Argentinië in die gesig te staar in Durban op 27 September, voordat hulle hul veldtog teen die Pumas in Londen op 4 Oktober afhandel.

“Ons het goed gereis, en alhoewel dit ‘n lang reis na Nieu-Seeland is, is ons opgewonde om hier te wees en ons sien uit na die uitdaging wat voorlê,” het Springbok-afrigter Rassie Erasmus gesê.

“Dit is altyd moeilik om hier te speel, maar die groep is in goeie luim, en ons is ten volle bewus van die omvang van die taak wat voorlê.

“Met al vier spanne in die Rugbykampioenskap wat tot dusver een wedstryd gewen het, is daar geen twyfel dat die volgende twee wedstryde deurslaggewend in ons veldtog sal wees nie, so dit is goed dat ons vroeg in die week gereis het.

“Die tydsone en toestande is natuurlik baie anders as by die huis, so dit is belangrik dat ons so gou moontlik akklimatiseer en onsself vestig om te verseker dat ons skerp by oefening is en gereed is om op ons beste te wees teen die tyd wat ons volgende naweek teen die All Blacks speel.”

Met ‘n week en ‘n half om voor te berei vir die eerste wedstryd, het Erasmus gesê dat die effektiewe bestuur van die spelers in die volgende paar dae noodsaaklik is om die beste uit hulle op die veld te kry.

“Ons het ons oefenskedule hierdie week uitgewerk op ‘n manier wat die spelers sal toelaat om te herstel van die twee fisiese wedstryde teen Australië, terwyl ons terselfdertyd geleidelik in die gang van sake kom vir die volgende twee wedstryde,” het Erasmus gesê.

“So ons sal slegs twee oefensessies hierdie week hê en dan van Maandag af ten volle in normale toetswedstryd-modus gaan.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article