AO Karl Sander van die Valke in KwaZulu-Natal, wat hierdie week voor die Madlanga-kommissie getuig het, het Suid-Afrikaners se harte behoorlik vermurwe. Ons berig oor sy emosionele getuienis en vind uit wat hy met die meer as ’n halfmiljoenrand van meer as 2 000 skenkers vir ’n “nuwe koffiemasjien” gaan doen.
Met minstens 26 hooggeplaaste amptenare wat die afgelope ruk in hegtenis geneem is, word nou gevra: Wie ondersoek nou eintlik vir wie? Ons berig oor die range van die beskuldigdes en vra ook hoekom die Zondo-kommissie sloer.
Dr. Pieter Groenewald, minister van korrektiewe dienste, verduidelik aan Die Papier hoe parooldrosters nie net sy departement se probleem is nie, ná die DA-leier, Geordin Hill-Lewis hom oor die kole gehaal het oor die duisende onopspoorbare gevangenes op parool.

Ons gesels met werklikheidster Mel Viljoen, wat ná maande in Amerikaanse tronke weer in Suid-Afrika is en berig oor die vure wat nou doodgeslaan moet word deur die departement van sport, kuns en kultuur oor die koste van kunstenaars, smaakmakers en meer wat binnekort vertrek om die Wêreldbeker-sokkertoernooi by te woon.
Op die sakeblaaie kyk ekonoom John Loos hoekom “korttermyn groeigefokusde” denke oor rentekoerse op langtermyn twyfelagtig is en watter ander ingrypings nodig is.
Lees meer oor die titaniese stryd tussen die verdedigende kampioen van die Virseker Noordvaal Cup, Hoërskool Garsfontein, wat Saterdag teen die onoorwonne Monnas te staan kom.
Hoor ook wat Oom Rugby oor die Bokke se ellelange lys van beserings te sê het en alles rondom die naweek se VRK-halfeindstrydwedstryde waarin die Bulls en Stormers speel.
Die krisis oor ongedokumenteerde buitelanders in Suid-Afrika kring uit. Politieke redakteur, Jana Marx, gesels met verskeie kenners oor dié probleem en ondersoek wat die moontlike oplossings kan wees.
Dít, en nog vele meer in die splinternuwe uitgawe van Die Papier, wat nou op die rakke is.
- Huisaflewering is ook beskikbaar deur Op the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
- ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op diepapier.co.za of by Magzter.






You must be logged in to post a comment.