Paarl Post

KYK: Die somer kruip nader en só ook slang-seisoen

Slangvanger Eduanne Niemand pronk saam met 'n Kaapse Kobra. Foto: Eduanne Niemnad/ Boland Snake Removals 24/7 & Pest Control
Slangvanger Eduanne Niemand pronk saam met ‘n Kaapse Kobra. Foto: Eduanne Niemnad/ Boland Snake Removals 24/7 & Pest Control

Die blomblare is ‘n bewys van die nuwe seisoen wat aangebreek het die koue weer trek terug en maak plek vir die warm son.

So ontwaak verskeie diertjies ook uit hul winterslaap om weer in die somerson te bak.

Paarl Post het met die bekende plaaslike slangvanger Eduanne Niemand gesels om te hoor of die slangseisoen al aan die gang is:

“Ek het verlede week net pofadders gevang, maar hierdie week is dit maar stil. Die afgelope naweek was ook stil, maar ek het een oproep oor ‘n kobra gehad. Die mense het hom egter nie dopgehou nie en hy het weggekom. Twee weke gelede was dit rowwer. Nou is die koue weer terug, maar ja, die slangseisoen is aan die go.”

Volgens Niemand kom hy deesdae meer op pofadders af. Hy meen op warm dae kom die pofadders uit om hul “batterye te recharge“.

“Dit is mos maar nou hulle (pofadders se) teeltyd … en kobras ook.”

Niemand sê wanneer ‘n mens op ‘n slang afkom, moet jy net ‘n paar treë agteruit loop en ‘n veilige afstand van sowat vier meter hou.

KYK:

Die Slang-ou, oftewel Eduanne Niemand van Boland Snake Removals, wys hier hoe om te maak indien jy op ‘n glibberige slang in jou huis afkom. VIDEO: Boland Snake Removals 24/7 & Pest Control

“As dit ‘n kobra is, gaan hy obviously sy kop oplig en bak oopmaak as jy in die huis stap en jy kom op hom af, maar as jy stilstaan, gaan hy onder iets soos ‘n yskas of ‘n sitkamerbank wegkruip – iewers waar dit donker is onder. Dan kan jy maar geraas maak, want dan bly hy net daar. Dit help nie jy hol pad toe en dan kom die slangvanger oor ‘n halfuur eers daar en dan staan die vrou in die pad en dan moet hy die hele huis deursoek nie. Geen slang jaag jou nie. As jy hom van ‘n veilige afstand af dophou, sal jy kan sien wanneer hy van die yskas na byvoorbeeld die deep freezer toe gaan.”

Wanneer ‘n mens ‘n slang op jou erf of in die woning teëkom, sê Niemand, moet jy dadelik die honde ook bêre.

” ‘n Slang raak deurmekaar as ‘n hond langs hom begin blaf . Hy het mos nie ore nie – hy het egter ‘n gehoorbeentjie, wat die vibrasie opvang, en ‘n hond irriteer ‘n slang. ‘n Hond jaag graag ‘n Kaapse kobra in ‘n boom op omdat hy so aanmekaar staan en blaf en dan wil die slang net wegkom. Die beste is – beweeg agteruit en staan doodstil. As ‘n slang jou nie sien nie, gaan hy onder iets wegkruip.”

Volgens Niemand, wat aan die stuur van Boland Snake Removals 24/7 & Pest Control is, moet mense na die netheid van hul erf omsien , want enige onnetheid kan slange lok.

“Blare in ‘n mens se tuin onder struike moet opgehark word sodat dit skoon is. Sny die bossies so 30 cm van die grond af oop sodat jy kan sien. As daar blare lê, kom daar muise, en as daar muise is, kom die slange. Met water features (soos fonteintjies) kom daar altyd slange, want daar is paddas. Daar is muskiete, wat die paddas lok, en dan kom veral ‘n kobra en soek ‘n padda om te vreet.”

Slange kom nie juis by vensters in nie, maar eerder by deure wat oop staan wanneer dit buite warm is , meen Niemand.

“As dit warmer as 30 °C is, maak maar jou huis se deur toe, anders gaan ‘n kobra, wat buite warm kry, in die huis kom afkoel. Dan verdwaal hy in die huis en dan loop jy hom die een of ander tyd in jou huis raak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article