KIMBERLEY – Opposisiepartye en besighede in Kimberley het hul misnoeë uitgespreek oor die krisis by die Sol Plaatje-munisipaliteit waar die ANC-beheerde raad onder beheer van burgemeester Martha Bartlett en speaker Dipuo Peters weer eens ʼn appèlaansoek ingedien het om van Thapelo Matlala, stadsbestuurder, ontslae te raak.
Matlala het reeds twee aansoeke teen hulle en die munisipaliteit gewen waarin die hof sy skorsing as onreëlmatig beskryf en ter syde gestel het.
Hy is verlede jaar geskors weens bewerings van bedrog, maar die munisipaliteit het nooit die tugproses afgehandel nie en sy skorsing het outomaties verval. Die speaker en burgemeester moes later in die hof toegee hul tweede poging om hom te skors en ʼn waarnemende stadsbestuurder aan te stel, was onreëlmatig. Die hof het die twee ampsdraers met kostebevele in hul persoonlike hoedanigheid gestraf.
‘Wanfunksionele staat het ernstige gevolge’
Sharon Steyn, bedryfshoof van die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci), sê die wanfunksionele staat in die munisipaliteit het ernstige gevolge op die ekonomie van Kimberley.
“Dit benadeel die stad se aantreklikheid as ‘n beleggingsbestemming vir bestaande besighede as nuwe beleggers. Verskeie nuwe ontwikkelings is na omliggende dorpe verskuif, terwyl belangrike ekonomiese rolspelers uit Kimberley wil onttrek en disinvesteer.

“Kimberley is reeds in ‘n haglike ekonomiese situasie. Verskeie pogings is oor die afgelope jaar aangewend om met politieke en ander regeringsrolspelers te vergader om die situasie op te los, maar sonder enige sukses.”
Sy doen ’n beroep op alle besighede om ‘n vergadering by te woon wat deur Nocci belê sal word. Die oogmerk is om die sakesektor se benadering en ʼn aksieplan te konsolideer.
LEES OOK: Municipal manager triumphs in court over Sol Plaatje speaker, mayor and council
“Dit sal die huidige situasie uiteensit, asook voorgestelde stappe wat die sakesektor gaan neem. Ons is reeds in gesprek met georganiseerde besigheid op nasionale vlak om met praktiese voorstelle vorendag te kom. Regstellende stappe moet gedoen word om die administrasie en dienslewering in Kimberley tot die verwagte vlakke te herstel.
“Die sakesektor het diep in Kimberley belê. Ons gaan nie toelaat dat die voortbestaan van besighede en hul werknemers bedreig word nie.”
‘Voortgesette politieke sirkus’
Heinrich Pieterse, DA-koukusleier by die munisipaliteit, sê die opposisie in die raad gelei deur die DA, het verlede week uit die raadsvergadering geloop nadat die ANC wéér probeer het om ’n waarnemende munisipale bestuurder aan te stel.
“Matlala was op advies van sy regspan nie by die vergadering teenwoordig nie. Dit volg nadat die munisipaliteit weer ’n appèl ingedien het om die hofbevel, wat hom toegelaat het om sy pligte te hervat ná sy onreëlmatige skorsing, ter syde te stel.
“Die speaker het geweier om kritieke vrae van die opposisie te beantwoord, insluitend wie die hernude appèl gemagtig het.
“Die jongste appèl hou duidelike finansiële risiko’s vir die munisipaliteit in. Toe die speaker probeer het om aanspreeklikheid te ontduik en sekuriteit ontbied het onder die voorwendsel om ‘orde’ te herstel, het die opposisie uitgestap om te verhoed dat die raad misbruik word om politieke belange te bevorder.
“Die voortgesette politieke sirkus speel af ten koste van dienslewering aan inwoners. Aanhoudende politieke inmenging verlam die bestuur, verhoed dat die munisipale bestuurder sy pligte nakom en belemmer stabiele administrasie. Dit skep ook die moontlikheid dat die munisipaliteit nie vandeesweek se sperdatum vir die ter tafellegging van die begroting sal haal nie. Toelaebefondsing kan weens onderbesteding in die gedrang kom.”
Inwoners kan nie bekostig dat eindelose politieke speletjies voortsleep terwyl dienslewering verder verswak nie, sê hy.
‘Geen openbare ampsdraer verhewe bo wet’
Johan Smit, VF Plus-raadslid, sê hulle is bekommerd oor die speaker se “doelbewuste versuim” om ’n mosie wat die VF Plus volgens prosedure ingedien het, ter tafel te neem. Die mosie gaan oor die afdanking van Matlala, die hofuitspraak en die raad se verontagsaming daarvan. Sy ignoreer dit steeds, ondanks ’n bindende skriftelike aanmaning ingevolge die raad se staande reëls.

“Die optrede is nie bloot prosedurele versuim nie, maar ernstige en onwettige belemmering van die raad se grondwetlike oorsigrol. Die speaker is wetlik verplig om mosies wat behoorlik ingedien is, te laat dien en demokratiese debat te bemiddel.
“Haar doelbewuste versuim om dit te doen, is ʼn prima facie oortreding van die gedragskode vir raadslede, insluitend skedule 1, items 2, 3 en 5 van die Wet op Munisipale Stelsels, en kom neer op die misbruik van openbare mag.”
Hy sê die VF Plus gaan formeel eis dat Bentley Vass , Noord-Kaapse LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, ’n formele ondersoek ingevolge artikels 14 en 106 van die Munisipale Stelselswet gelas.
“Die bepalings plaas ’n bindende, statutêre verpligting op die LUR om op te tree waar daar prima facie bewyse van ernstige wangedrag en ‘n skending van die gedragskode bestaan. Die speaker se versuim om haar wetlike pligte na te kom en moontlike versuim deur die LUR om sy statutêre bevoegdhede uit te oefen, kan verdere regsgevolge inhou, insluitend verwysing na die openbare beskermer vir ondersoek.”
Smit sê geen openbare ampsdraer staan verhewe bo die wet nie.
LEES OOK: Cape Town urges finance minister to protect municipal and infrastructure funding






You must be logged in to post a comment.