Twee gewapende aanvallers wat Vrydagaand, 28 November twee polisielede in Ivory Park, Johannesburg doodgeskiet het, is steeds op vrye voet, en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sê hulle doen alles in hulle vermoë om die verdagtes vas te trek.
Die nasionale kommissaris van die SAPD, gen. Fannie Masemola, het die provinsiale kommissaris van Gauteng, lt.gen. Tommy Mthombeni, opdrag gegee om alle beskikbare hulpbronne te mobiliseer om die twee gewapende verdagtes op te spoor wat die twee polisielede doodgeskiet en ontwapen het.
Die twee beamptes, ’n sersant en konstabel, was albei verbonde aan die Ivory Park-polisiestasie en was besig met misdaadvoorkoming in die Ivory Park-omgewing toe onbekende aanvallers hulle noodlottig geskiet het.
Volgens ‘n verklaring deur die SAPD, het die verdagtes van die toneel gevlug met twee SAPD-pistole, ’n SAPD-geweer en twee selfone.
Mthombeni, wat die toneel Vrydagaand besoek het, het reeds ’n span ervare speurders en lede van gespesialiseerde eenhede opdrag gegee om die moordenaars vas te trek en die gesteelde staatsvuurwapens te herwin, luidens die verklaring.
LEES OOK: Murder probe after three killed in police shoot-out in Parktown
Masemola het die voorval ten sterkste veroordeel en gesê die “toenemende aanvalle op polisielede, aan diens en van diens af, ondermyn die gesag van die staat”.
“Tussen 1 April en 30 September 2025 het die SAPD ses polisielede verloor wat in die uitvoering van hul dienspligte vermoor is. Die SAPD doen alles moontlik om te verseker dat lede altyd operasioneel gereed is om op die roep van diens te reageer, deur hulle van die nodige hulpbronne te voorsien en te verseker dat hulle opknappingskursusse en gereelde skietoefeninge bywoon. Aan al ons wetstoepassers daar buite: moenie sterf met die hulpbronne wat ons vir julle gegee het nie. Wees altyd waaksaam en tree beslissend op wanneer jou lewe of die lewens van die gemeenskappe wat ons dien, bedreig word,” het Masemola gesê.
Die SAPD doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die voorval of die verdagtes om die SAPD se Stop Misdaad-lyn by 08600 10111 te skakel, of die stasiebevelvoerder van Ivory Park, brig. Ngcobo op 076 411 2314 te kontak.



