Northridge Mall waar vermeende rowers Sondag Jewel Craft beroof het. FOTO: Verskaf

BLOEMFONTEIN – Twee mans wat daarvan verdink word dat hulle verbind kan word met die rooftog van twee juwelierswinkels in Bloemfontein, is Dinsdag om 23:00 by die Vaal Plaza-tolhek op die N1 net suid van die Vaalrivier in hegtenis geneem.

Dit volg ná dramatiese gebeure waarin HDL Juweliers in Mimosa Mall en Jewel Craft in Northridge Mall Sondag 16 November beroof is.

Die twee mans onderskeidelik 27 en 35 jaar, is deur lede van die Fezile Dabi se Trio-taakspan, die distrik misdaadbeskermingseenheid en die snelwegpatrollie saam met veiligheidsondernemings vasgetrek nadat die motor waarin hulle gereis het, herken is en opgemerk is.

Bewysstukke uit die voertuig van die twee vermeende rowers. FOTO: SAPD

Lees die berig oor Sondag se rooftog hier

Nadat die voertuig tot stilstand gebring is, het een van die verdagtes ’n vuurwapen op polisiebeamptes gerig waarna ’n skietery ontstaan het. Albei verdagtes is gewond en is op die toneel behandel voordat hulle onder polisiebegeleiding na ’n hospitaal geneem is. Geen van die polisiebeamptes is beseer nie.

Tydens ’n deursoeking van die voertuig, het die polisie beslag gelê op twee 9mm-pistole en ’n AK47 asook ammunisie en juwele wat vermoedelik tydens die rooftogte Sondag in Bloemfontein gesteel is.

HDL Juweliers open na alle verwagting weer Maandag 24 November, nadat dit sedert die rooftog Sondag gesluit is om herstelwerk te doen.

Johan Laubscher van HDL sê hulle is “hard geslaan” deur dié rooftog. “Die belagriktste is dat geen van ons personeel seergekry het nie. Daarvoor is ons baie dankbaar.”

Hy sê hy en sy broer, Pieter, was op reis na Bloemfontein ná ’n geselligheid in Johannesburg en was nie Sondagoggend in die winkel nie. “Ons Ma, Dolores, was wel die oggend in die winkel en het vir die personeel koffie gevat. Sy het die winkel twee minute voor die rooftog verlaat. Ons is so dankbaar dat sy nie daar was en dat sy nie seergekry het nie,” het Johan Woensdag oor die voorval gesê.

Hulle het heel eerste die personeel se paniekknoppies wat om hul nekke gehang het, geneem. Ek het probeer om die paniekknoppie in die winkel te druk. Ek het net die heeltyd gebid terwyl hulle in die winkel was.

Die rowers het Sondag om 09:45 toegeslaan op Jewel Craft in Northridge Mall. Een van die eienaars, Olga Pieterse, wat die oggend in die winkel was, sê een van die rowers het gemaak of hy ’n klant is en sy het hom ingelaat. Sy makkers het agter hom ingestorm en die personeel beveel om op die grond te lê. Hulle het voortgegaan om uitstalkaste stukkend te slaan en die juwele te steel. Olga sê hulle het heel eerste die personeel se paniekknoppies wat om hul nekke gehang het, geneem. “Ek het probeer om die paniekknoppie in die winkel te druk. Ek het net die heeltyd gebid terwyl hulle in die winkel was,” vertel sy.

Die rowers het daarna uit die winkel gehardloop en voor die mall in ’n wit Suzuki Amaze-sedan gespring en gevlug.

Om 12:21 het die tweede rooftog plaasgevind toe vyf onbekende gewapende mans in HDL in Mimosa Mall ingestorm het en die personeel beveel het om plat te lê. Hulle het daarna glaskaste gebreek en begin om die juwele in sakke te pak. Laubscher sê daar het geen skote afgegaan soos beweer is nie. Dit was die geluid van die glaskaste wat gebreek is.

Ná die rooftog het die rowers die mall in drie wit voertuie verlaat – ‘n BMW, ’n Volkswagen Gholf 7 en ‘n Mercedes-Benz. Volgens die polisie dui dit alles op ‘n goed beplande rooftog.

Lt.kol Zweli Mohobedi, provinsiale woordvoerder van die Valke sê die ondersoek of die rooftogte met mekaar verbind kan word, is deel van die ondersoek wat voortduur.

Laubscher sê die bestuur van Mimosa Mall en die publiek se ondersteuning is ‘n groot bemoediging in hierdie tyd. “Die polisie was baie deeglik in hul ondersoek,” sê hy.

“Die voorraad wat in die winkel was, is oor jare bymekaargemaak. Maar ons moet aangaan, ons personeel het ons nodig. Ons het die hele week al verskaffers gesien om nuwe voorraad te bekom,” sê hy. Laubscher sê nuwe veiligheidsmaatreëls by die winkel gaan in plek gestel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article