‘n Slangvanger van Worcester wat in ‘n kritieke toestand in die hospitaal is toon tekens van herstel, hoewel hy steeds aan ‘n ventilator gekoppel is ná ‘n hartstilstand.
Daar is aanvanklik berig dat André du Preez van Silverfox Snake Rescues weens ‘n spinnekopbyt gehospitaliseer is, maar sy familie sê dat ‘n virus vermoedelik sy gesondheid onder druk geplaas het en hy daarna ‘n hartstilstand gehad het.
Du Preez het op Maandag 9 Februarie ‘n plasing op sy Facebook-blad gemaak waarin hy sê dat hy nie beskikbaar is om slange te vang nie omdat hy in die hospitaal opgeneem is ná ‘n spinnekopbyt. Hy was toe reeds vier dae lank in die hospitaal.
“Dink dit het gebeur toe ek ‘n hok gaan deursoek het vir ‘n kobra. Dit het begin as amper iets soos waterblase en toe skuif dit na die binnekant van my oor, amper soos rou ‘mince’,” het hy geskryf. Hy was ook van balans af. Dit was vermoedelik ‘n bruin knopiespinnekop.

Du Preez is ‘n staatmaker in Worcester en omgewing. Hy verwyder reeds meer as twinting jaar lank kobras, pofadders en watter slang hom ook al op ‘n plek bevind waar hy nie welkom is nie. Hy het tien jaar gelede onder die naam Silverfox Snake Rescues begin werk. Hy is bekend vir sy groot liefde vir die reptiele en sy passie vir bewaring. Hy bied gereeld kursusse aan waar hy mense met kennis oor slange toerus en aanmoedig om hulle nie voor die voet dood te maak nie. Die gemeenskap het met skok van sy hospitalisasie verneem en hul medelye en waardering vir hom wyd op sosiale media gedeel.
Du Preez se dogter, Talisa du Preez, het aan Standard gesê dat hy teen Dinsdagmiddag vir die sesde dag in die waaksaal was.
“Ons het nie voorheen inligting gedeel nie, want daar was baie onsekerheid oor sy toestand en wat dit veroorsaak het,” het sy gesê.
Ná die spinnekopbyt agter sy oor het daar blase gevorm en hy het gekla van hoofpyn. Dié simptome wou nie wyk nie en hy het ‘n spesialis gaan spreek wat medikasie voorgeskryf het. Hy is ná ‘n paar dae ongevalle toe en is op Saterdag 7 Februarie in die hospitaal opgeneem.
Die familie, wat reeds geskok en hartseer was, het op dieselfde dag ook Du Preez se pa, ook André du Preez, aan die dood afgestaan ná ‘n kort en aggressiewe stryd teen kanker. Hy was ‘n bekende in die gemeenskap en het jare lank by Noordboland (nou Kaap Agri) gewerk.

Du Preez is die Maandag weer ontslaan. “In die hospitaal is gordelroos ook by my pa gediagnoseer wat sere veroorsaak het. Sy eetlus was ‘n paar dae lank weg en hy het net water gedrink en was koorsig en glad nie homself nie. Op Donderdag 13 Februarie was hy weer ongevalle toe en is in die waaksaal opgeneem,” het sy gesê.
Hy is aanvanklik ligte verdowing gegee en het suurstof deur die neus ontvang om hom gemaklik te maak. Hy het in die vroeë oggendure ‘n hartstilstand gekry. Die hospitaalpersoneel het hom bygebring en aan ‘n ventilator en verdowing gekoppel.
Die dokters het besef daar is ‘n virus wat sy gesondheid knou. Hy is op dialise gesit omdat sy lewer en niere gesukkel het. Die vermoede is dat hy die virus opgedoen het deur die wonde wat die gordelroos op sy lyf veroorsaak het.
“Die dokters het vir hom nuwe medikasie gegee. Hy is van Saterdag af tot vandag (Dinsdag 17 Februarie) afhanklik van ‘n ventilator en is op ligte dialise vir ondersteuning,” het sy dogter gesê.
“Sy sedasie is verminder en ons wag dat hy self begin asemhaal en reageer op klank en aanraking sodat hulle die ventilator kan aanpas sodat dit hom net help asemhaal en nie alles doen nie.”
Talisa, haar ma, Tania, en broer, Jandré, het gesê hulle is baie dankbaar vir die geweldige ondersteuning wat hulle van die gemeenskap ontvang het. “Ons weet julle is net so bekommerd. Ons wil dankie sê aan al die dokters en verpleegsters wat na hom kyk. Elke dag hoop ons vir nog ‘n bietjie goeie nuus,” het Talisa gesê.






You must be logged in to post a comment.