Terwyl baie tieners hul vrye tyd op die sosiale media deurbring, verkies die 15-jarige Ruzé Lombaard van Virginia om nuwe wêrelde met woorde te bou.

Wat as ‘n liefde vir lees begin het, het binne enkele jare ontwikkel tot ‘n droom wat reeds ‘n werklikheid geword het: Sy is vandag ‘n gepubliseerde skrywer.

Ruzé, ‘n leerder aan die Hoërskool Henties Cilliers, is in Klerksdorp gebore en woon saam met haar gesin in Virginia. Haar passie vir stories het in gr. 6 posgevat toe sy boeke van die gewilde Afrikaanse skrywers Jaco Jacobs en Fanie Viljoen verslind het.

“Ek het besef dat ek ook my eie stories wil vertel,” sê sy.

Die 15-jarige Ruzé Lombaard van Virginia het Maanplante gepubliseer
Die 15-jarige Ruzé Lombaard van Virginia het Maanplante gepubliseer

Dit het gelei tot haar eerste boek, Maanplante, wat sy as gr. 6-leerder geskryf het. Op 6 Desember 2025 is

dit op Amazon gepubliseer – ‘n prestasie waarop min tieners kan roem.

Ruzé sien dit egter slegs as die begin van haar skrywersreis. Sy werk aan haar volgende roman, The Cursed Town, waarin sy haar liefde vir spanning, avontuur en oorspronklike storielyne verder uitleef.

Vir haar is skryf veel meer as ‘n stokperdjie.

“Skryf gee my die geleentheid om nuwe wêrelde te skep, mense se verbeelding aan te wakker en stories te vertel wat nog lank onthou sal word,” vertel sy.

Wanneer sy nie besig is om aan haar jongste manuskrip te werk nie, verdiep sy haar in boeke of sit sy by ‘n skaakbord. Sy glo dat skaak haar leer om strategies te dink en probleme op te los – vaardighede wat van groot waarde is wanneer sy komplekse karakters en intriges ontwikkel.

Met kreatiwiteit, deursettingsvermoë en liefde vir stories vestig Ruzé reeds haar plek in die wêreld van skryf. Haar grootste droom is om nog baie boeke te publiseer en lesers van alle ouderdomme met haar verbeelding te inspireer.

Vir dié jong skrywer is elke storie die begin van ‘n nuwe avontuur – en haar eie verhaal het nog maar pas begin.

LEES OOK: Tieners trek hier saam

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article