Illustratiewe foto Foto: Pexels
Foto ter illustrasie Foto: Pexels

Matriekeksamen: Ouers se ondersteuning maak saak


Die matriekeindeksamen bring groot verwagtinge en spanning mee, maar ouers kan hul kinders help deur ’n rustige leeromgewing te skep, huishoudelike pligte te verminder en hulle emosioneel te ondersteun.

Dit is die raad van Lindsay Newman, ’n graad 10-12-onderwyser by Charleston Hill Sekondêre Skool (CH) in die Paarl.

Newman sê matriek plaas groot druk op leerders, ouers en die gemeenskap.

“Matriek skep groot verwagting, want dit is die hoogte wat kinders in ons gemeenskappe (agterbuurt) kan bereik,” sê Newman.

Sy sê sommige kinders word deur hul oumas grootgemaak, terwyl ander grootliks op hulself aangewese is.

“Dit maak ondersteuning tydens die eksamen selfs belangriker,” beklemtoon sy.

Hoewel dit nie altyd maklik is nie, moedig sy gesinne aan om planne te maak sodat leerders ’n stil plek het om voor te berei.

“Dit kan selfs beteken dat ’n kind tydelik by iemand anders gaan woon om in ’n rustiger omgewing te leer,” sê Newman.

Matriek bring uiteenlopende emosies

Die spanning is reeds merkbaar onder matrikulante wat met hul eksamen begin het.

Fredjade Zass, ‘n matrikulant aan CH, sê sy voel effens senuweeagtig, maar is ook opgewonde dat die eksamen uiteindelik begin het.

“Dit is baie werk, maar ek is bly dit het begin sodat ek dit net kan doen en klaarmaak,” sê sy.

Fredjade sê haar strategie is om gefokus te bly en een vraestel op ’n slag te hanteer.

Tenicha Malgas van Klapmuts, ’n matrikulant aan Cloetesville Hoërskool in Stellenbosch, sê die eksamen maak haar gespanne, maar sy bly positief en beoog om haar bes te doen.

Haar eerste vraestel was volgens haar nie so uitdagend nie, omdat sy goed daarvoor voorberei het.

Lila van der Merwe, ’n matrikulant aan Hoër Meisieskool La Rochelle, sê die matriekeindeksamen bring talle emosies mee.

“Ek is dankbaar dat my 12-jaar-skoolloopbaan tot ’n einde kom, maar terselfdertyd is dit ’n intense en stresvolle situasie,” sê sy.

Lila beskryf die eksamen as uiters belangrik.

“Die uitslae van dié eksamen beïnvloed jou toekoms en kan verskeie deure oop en toe maak,” sê sy.

Lila het tot dusver twee vraestelle geskryf en beskryf albei as billik. Die hoeveelheid tyd wat leerders kry om die vrae te beantwoord, bly egter ’n uitdaging.

“Ek het met albei vraestelle tot op die laaste minuut geveg om dit te voltooi,” sê sy.

Minder druk en meer emosionele ondersteuning

Newman sê ouers kan hul kinders se las verlig deur huishoudelike pligte gedurende die eksamentyd te verminder.

Hoewel sommige leerders dalk matriek as rede gebruik om nie met huishoudelike take te help nie, meen sy ouers kan steeds ’n balans handhaaf en hul kinders in dié tyd ekstra ruimte gee.

“Die kinders is baie, baie emosioneel en opgewerk in matriek,” beklemtoon sy.

Sy vertel dat leerders reeds tydens die voorbereiding vir ’n vraestel baie gespanne geraak het. Een leerder het gehuil omdat sy gevoel het sy kan nie die druk hanteer nie.

“Dis die ouers se plig om regtig daar te wees en om die kind emosioneel te ondersteun en soms net te vra: ‘Is jy oukei?’”

Gereelde aanmoediging en die wete dat iemand omgee, kan volgens Newman ’n groot verskil maak.

Fredjade stem saam. Sy meen haar ouers kan haar ondersteun deur haar ruimte en stilte te gee om te leer, haar aan te moedig en nie onnodige druk op haar te plaas nie.

Tenicha sê sy het ook ondersteuning, aanmoediging en ’n rustige plek nodig om voor te berei.

Genoeg rus en voedsame kos is eweneens belangrik. Newman erken dat dit vir sommige gesinne moeilik is om altyd kos op die tafel te sit, maar moedig ouers aan om planne te maak om seker te maak hul kinders kry genoeg voeding.

Fredjade sê dit sal help as haar ouers seker maak sy eet gesond, kry genoeg slaap en iemand het met wie sy kan praat wanneer sy dit nodig het.

Lila sê haar ouers kan haar tuis ondersteun deur daagliks erkenning te gee aan die harde werk wat sy insit. Volgens haar kan hulle haar ook motiveer om aan te hou leer en die eksamens na die beste van haar vermoë af te lê.

“Hulle kan ook die huis rustig hou met lekker bederfies en gebalanseerde maaltye,” sê sy.

Newman waarsku ouers om hul woorde versigtig te kies en nie hul kinders se selfvertroue met negatiewe opmerkings af te breek nie.

“Laat ons dit maar positief hou en nie die kind ontmoedig nie,” sê sy.

Ná ’n vraestel moet ouers ook versigtig wees om hul kinders aanhoudend uit te vra oor hoe hulle gevaar het. Newman moedig ouers aan om hulle eerder te motiveer om op die volgende vraestel te fokus as om oor die vorige een te tob.

Leerders moet veilig genoeg voel om eerlik oor hul vrese en teleurstellings te praat.

“Ons kinders moet onthou dat die ouer of voog, of by wie hulle ook al bly, die veilige hawe is,” sê Newman.

Kinders moet tuis kan erken wanneer ‘n vraestel nie goed gegaan het nie of wanneer hulle bekommerd is oor ‘n vak, sonder om te vrees dat hulle teleurstelling sal veroorsaak.

Ouers se ondersteuning is juis dan steeds nodig.

Matriekuitslae bepaal nie ‘n leerder se hele toekoms nie

Boland Kollege moedig matrikulante aan om gefokus te bly, in hulself te glo en elke eksamen stap vir stap aan te pak.

Volgens Lyle Fatagodien, eksamensklerk by Boland Kollege se Paarlberg-kampus, is dit verstaanbaar dat leerders angstig voel oor hul finale uitslae en die toelatingsvereistes van tersiêre instellings.

Hy meen egter leerders moenie toelaat dat vrees hulle verhinder om hul bes te lewer nie.

Die kollege moedig leerders aan om doeltreffend voor te berei, hul tyd te bestuur, genoeg te rus en ondersteuning by onderwysers, gesinne en ander persone te soek wanneer hulle oorweldig voel.

Hoewel matriekuitslae belangrik is, bepaal dit, volgens Fatagodien, nie ‘n leerder se hele toekoms nie. Volgens hom is daar verskeie opvoedkundige loopbaanpaaie wat leerders kan help om hul doelwitte te bereik.

Leerders wat nie die uitslae behaal waarop hulle gehoop het nie, of nie aan die toelatingsvereistes vir ‘n spesifieke program voldoen nie, word aangemoedig om ander studie-opsies te ondersoek.

Voornemende studente kan die beskikbare programme en hul toelatingsvereistes ondersoek om te bepaal watter opsies by hul belangstellings, kwalifikasies en loopbaandoelwitte pas.

Fatagodien sê dis baie belangrik vir leerders om gefokus te bly, hul opsies te verken, en beskikbare leiding te gebruik wanneer hulle hul volgende stappe beplan.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article