Skoolbussie betrokke in ernstige ongeluk op pad na Bloemfontein

Hoërskool Salomon Senekal se skoolbussie
Hoërskool Salomon Senekal se skoolbussie was in ‘n ernstige ongeluk betrokke. FOTO: Verskaf

VILJOENSKROON – ’n Leerling en ‘n onderwyseres van die Hoërskool Salomon Senekal van Viljoenskroon is Vrydag 3 April omstreek 08:15 in ‘n ernstige ongeluk op die N1, ongeveer 5 kilometer buite Winburg beseer.

Ten tyde van die ongeluk was die skoolbussie op pad na ‘n hokkietoernooi in Bloemfontein.

Die Winburg-polisie is na die ongelukstoneel ontbied en het met hul aankoms twee voertuie op die toneel gevind – ‘n wit Toyota Quantum en ‘n wit Hino-vragmotor.

Die ongelukstoneel op die N1, ongeveer 5 kilometer buite Winburg. FOTO: Facebook

Volgens ‘n polisie-woordvoerder het die twee voertuie albei in ‘n suidelike rigting gery. Die Hino-vragmotor het agter die Toyota Quantum gery wat leerders en skoolpersoneel vervoer het. Die Quantum is na bewering van agter deur die Hino-laebakvragmotor getref. Die bestuurder van die Quantum het beheer verloor, en die voertuig het ‘n paar keer die pad verlaat voordat dit omgeslaan en tot stilstand gekom het.

LEES OOK: Kerkgangers ernstig beseer in botsing buite Malmesbury(Opens in a new browser tab)

Twee vroue van onderskeidelik 15 en 24 jaar oud het ligte tot ernstige beserings opgedoen. Hulle is na verskillende hospitale vir behandeling geneem. Ander passasiers het op die toneel behandeling vir skok en ligte beserings ontvang. Nova News verneem dat die onderwyseres ‘n sleutelbeen-operasie ondergaan het.

Omstandighede wat tot die ongeluk gelei het, sal deel van die polisie-ondersoek wees. ‘n Saak van roekelose en nalatige bestuur is aanhangig gemaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article