motorbotsing Wellington
Die ongelukstoneel op die R45 waarby twee voertuie betrokke was. Foto: DFW Fire & Rescue NPC/ Facebook

WELLINGTON – Nóg ‘n motorbotsing – dié keer by die aansluiting van die R45 en die Lady Loch-pad buite Wellington, is Saterdagaand (25 Oktober) aangemeld nadat ‘n bakkie en ‘n kleiner motor teen mekaar gebots het. Niemand is in die ongeluk dood nie, maar die drie insittends in die kleiner motor het ernstige beserings opgedoen.

Die ongeluk het ongeveer 19:00 gebeur, sê Daan van Leeuwen Boomkamp, die stigter van die Drakenstein-plaaswag (DFW), nadat twee DFW-lede eerste op die toneel was om die insittendes by te staan.

Hierdie botsing was een van minstens twee die afgelope naweek in die vallei.

In ‘n ander onverwante botsing is ‘n bejaarde egpaar op dieselfde dag dood nadat hulle omstreeks 14:00 op die R44 buite Klapmuts naby aan die Arra-wynplaas, waar die twee bejaardes by hul seun gewoon het, verongeluk het.

LEES OOK: Tragedie op R44: Bejaarde egpaar sterf op pad huis toe

Twee DFW-lede, wat ook as lede van die Wes-Kaapse noodhulpdiensstelsel (Efar) opgelei is, was toevallig in die omgewing van die voorval, het Van Leeuwen Boomkamp verduidelik. Hulle het toe gaan ondersoek instel nadat ‘n nabye boer die plaaswag gebel en gesê het hy het ” ‘n groot slag” gehoor.

Volgens hom was ‘n Toyota-bakkie en ‘n kleiner motor (waarvan die maak onbekend is) in die botsing betrokke, maar dit is onduidelik hoe die ongeluk gebeur het.

Die insittendes in die bakkie is ongedeerd nadat die lugsakke ontplooi het, terwyl drie insittendes in die kleiner motor in ‘n kritieke toestand deur die twee DFW-lede gestabliseer is totdat nooddienste kort op die DFW se hakke by die ongelukstoneel opgedaag het, waarna hulle na die hospitaal geneem is.

Paarl Post het na die Wellington-polisie uitgereik, wie se kommentaar bygevoeg sal word sodra dit ontvang is.

You need to be Logged In to leave a comment.