SOMERSET-WES – ‘n Skietvoorval in Sir Lowry’s Pass Woensdag 12 November het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.
Die Somerset-Wes-polisie ondersoek ‘n saak van moord en poging tot moord nadat die voorval ‘n vroulike slagoffer geëis en na bewering nog een beseer het.
Met DistriksPos & Helderberg Gazette se aankoms het die strate in die Riemvasmaak-woongebied gewemel van inwoners wat as deel van ‘n groot skare omstanders in ongeloof by die toneel saamgedrom het.

Twee tonele
Polisielede het intussen hul ondersoek op twee tonele voortgesit.
Die eerste toneel is afgesper by die woning van die noodlottige slagoffer, wat vermoedelik die eienaar van ‘n plaaslike sjebeen was.
‘n Beweerde kennis en mede-inwoner wat onder die skare op die toneel was, het vertel hoe hy vroeër die dag tydens ‘n besoek met haar ‘n “lekker” gesprek gevoer het.
“Tydens ons gesprek het sy nog gepraat van die wonderlike Kerstyd wat sy hoop ons hierdie jaar gaan vier,” het hy gesê. “Ons ken mekaar baie lank. Sy was ‘n baie goeie mens en ek het gereeld by haar gekuier.”

Verskeie skote afgevuur
Sersant Suzan Jantjies, woordvoerder vir die Somerset-Wes-polisie, het by navraag die skietvoorval bevestig en gesê: “Net na 11:00 Woensdagoggend het twee mans ‘n woning in Riemvasmaak binnegegaan onder voorwendsel om alkohol te koop.
“Die oorledene se man het die mans opgemerk en die huis verlaat sonder om dit vreemd te vind aangesien sy vrou ‘n sjebeen bedryf. Terwyl hy om die huis beweeg het, het hy verskeie skote hoor klap. Hy het teruggehardloop na die huis en sy vrou, 39 jaar oud, noodlottig gewond gevind.”
Die oorledene is geïdentifiseer as Nandipha Gwabeni, wat aan ‘n nekwond beswyk het. Jantjies het bevestig dat die vermeende verdagtes tydens hul vlug verskeie skote afgevuur het.
Een van die skote het ‘n venster van ‘n woning beskadig, maar niemand is gewond nie.
Erg ontstoke
‘n Vrou (29) beweer egter dat haar man wel tydens die skietvoorval beseer is.
Volgens haar het haar man by die venster uitgekyk net toe die vermeende verdagtes gevlug het. “Hy is oukei, maar ek voel baie sleg – eintlik bedonderd, om eerlik te wees. Hoe kan jy net kom skiet soos jy lus kry?” het die vrou gevra.
Sy vermoed dat daar op haar 32-jarige man geskiet is omdat hy juis by die venster uitgekyk het terwyl hulle in die voertuig probeer vlug het.


Hy het nie geweet van die voorval in die ander straat nie, maar een van die verdagtes het hom moontlik uit vrees geskiet dat hy hulle sou raaksien en later kon uitken.
“Gelukkig het die koeël hom nie getref nie – dit sit nog in die venster vas. Ons weet nie presies hoe hy beseer is nie,” het sy gesê.
Terwyl die koerant op dié toneel was, het die man na buite gekom met ‘n sigbaar beseerde en bebloede mond.
Volgens Jantjies word daar vermoed dat die verdagtes in ‘n wit Toyota Condor gevlug het. Die polisie se ondersoek na die saak van moord en poging tot moord gaan voort.






You must be logged in to post a comment.