Brendan Peyper
Die Afrikaanse sanger Brendan Peyper is nie meer in ‘n sekwestrasie-aansoek gewikkel nie. Foto: Facebook

Sekwestrasie-aansoek teen sanger Brendan Peyper laat vaar

Brendan Peyper
Die Afrikaanse sanger Brendan Peyper is nie meer in ‘n sekwestrasie-aansoek gewikkel nie. Foto: Facebook

Skaars ‘n maand nadat die Afrikaanse sanger Brendan Peyper sy verlowing aangekondig het, het nog ‘n stukkie goeie nuus hom te beurt geval – hy word nie meer gesekwestreer nie.

Peyper se prokureur, Eloise Cilliers, het Maandag aan NovaNews se susterpublikasie, Die Papier bevestig dat die aansoeker Eduard Hugo, eienaar van SA Concerts, hulle “slegs ure” voor die aanvang van die sekwestrasie-aansoek genader het om ‘n ooreenkoms te bereik.

“Ek is tevrede dat regverdigheid en waarheid uiteindelik geseëvier het en dat ek kan aangaan met my lewe sonder dat daar ’n swaard konstant oor my nek hang,” het Peyper ook Maandag aan dié publikasie gesê.

Hy het die uitkoms van die saak toegeskryf aan “my vertroue in my verlosser, Jesus Christus, en Sy werk in my lewe.”

Die Papier berig dat die hof Peyper in November verlede jaar onder voorlopige sekwestrasie geplaas het.

Die sekwestrasie spruit uit ‘n geskil tussen Peyper en Hugo oor die Loslit-fees by die Hoërskool Monument in Krugersdorp in 2023.

Die fees, waarby Peyper saam met ander Afrikaanse kunstenaars opgetree het, het na bewering verliese van honderdduisende rande gelei, en Hugo wou 50% van die koste van Peyper verhaal omdat hul beweerde vennootskap glo gedeelde regsaanspreeklikheid insluit.

Maar Peyper het deurgaans volgehou hy is nie verantwoordelik vir enige verliese nie. Hy het die aard, afdwingbaarheid en bestaan van die beweerde vennootskap teengestaan.

Hy het voorheen in sy eedsverklaring aangevoer hy het Hugo “herhaaldelik” gevra vir ‘n ooreenkoms wat die rolle uiteensit. Volgens Peyper was dit sy rol om bemarking vir die fees te doen en daar op te tree.

Hoewel die hof WhatsApp-boodskappe tussen Peyper en Hugo toegelaat het waarin die “vennootskap” bespreek is, het Peyper se regsspan volgehou enige gesprekke oor ‘n vennootskap was onderhewig aan ‘n formele ooreenkoms, wat nooit gebeur het nie.

“In terme van die skikking (in die sekwestrasie-aansoek), wat ‘n bevel van die hof gemaak is, behou die applikant (Hugo) die reg om, indien hy sou wou, aksie in te stel by wyse van dagvaarding vir die beweerde bedrag sowel as die aspek van koste in die sekwestrasie-aansoek,” het Cilliers gesê.

Volgens Cilliers sal hulle enige verdere stappe deur Hugo teenstaan.

Sy het bevestig enige beweerde uitstaande bedrag, “indien dit inderdaad bewys word”, reeds in die prokureurs se trustrekening lê.

Pogings om Hugo en sy prokureurs in die hande te kry was nog nie suksesvol nie.

  • Peyper, bekend vir gewilde danstreffers soos “Stop wag bly nog ‘n bietjie”, Toer om die Vloer”, “Insomnia”, “Hart soos ‘n Hilux” en die onlangse EP, “Troumateriaal” (2025) was meer onlangs op die kassie te sien in die kykNET-realiteitsreeks, Ander dam se eende saam met mede-sanger Bobby van Jaarsveld waarin dié twee, sonder ‘n vaste plan, ‘n reis deur Amerika meegemaak het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article