Tienertoneelspan van Hoërskool Witteberg
Tienertoneelspan van Hoërskool Witteberg

Witteberg Tienertoneelspan triomfeer as Durban-streekswenners


Hoërskool Witteberg, Bethlehem – Die Tienertoneelspan van Hoërskool Witteberg het van 23 tot 25 Julie tydens die ATKV-Tienertoneelfees in Durban groot geskitter. Hul produksie, (Op)soek na Sondag, is as Durban-streekswenner én beste produksie bekroon. Die span het ’n indrukwekkende oes van medaljes en spesiale toekennings.

Die stuk is geskryf deur Luan Jacobs. Dit vertel die verhaal van ’n groep boemelaars wat hul name vir dae van die week verruil het. Wanneer Sondag verdwyn, begin ’n reis vol versoekings en moeilike keuses. Dit dra ’n sterk geloofsboodskap: ons keuses het gevolge, maar die Heilige Gees laat ons nooit alleen nie.

Regisseur Ronelle van Heerden skryf die sukses toe aan die span se uitsonderlike samewerking en navorsing. “Die groep se spanwerk en werksetiek was van hoogstaande gehalte. Elkeen het sy rol perfek vervul, wat ons tot spesialiste op elke gebied gemaak het,” sê sy.

Benewens die streekswenner-titel is die produksie vereer met toekennings vir tegniese uitnemendheid. Erné van Aswegen is as beste verhoogbestuurder aangewys en het ’n Cum laude ontvang. Suné Hills en Gerhard Nel het onderskeidelik as beste beligtings- en klankoperateurs uitgeblink. Verder het Leonelle van Niekerk die toekenning vir beste aktrise in ’n hoofrol verower het.

Die medalje-oes sluit een Cum laude, sewe goud-, twaalf silwer- en vyf bronsmedaljes in vir spel, regie, ensemblewerk, tegniese aspekte, kostuums, stelontwerp, beligting en klank.

Met hierdie prestasies agter hul naam verskuif Witteberg se fokus nou na die Allegretto Toneelfees in Bloemfontein. Daar sal (Op)soek na Sondag op 13 Augustus weer op die planke wees.

https://witteberghs.co.za/

Foto’s verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article