Jayden en Jade September (15), ’n Paarlse tweeling, is gekies om ’n internasionale akademiese toer mee te maak. Foto: Verskaf

Tweeling van die Paarl wen Stadio-toerprys

Jayden en Jade September (15), ’n Paarlse tweeling, is gekies om ’n internasionale akademiese toer mee te maak. Foto: Verskaf

’n Paarlse tweeling kan volgende jaar hul tasse pak nadat hulle onder hul skool se top-10- akademiese presteerders vir ’n internasionale akademiese toer gekies is.

Jade en Jayden September (15) is gr.-9-leerders aan die Hoërskool Labori. Hulle is onder dié leerders wat aanstaande jaar aan die Stadio-akademiesepresteerderstoer na Australië sal deelneem.

Die toer oor 11 dae vind in Desember 2027 plaas en neem die leerders na Melbourne, Canberra en Sydney.

Jade sê dit slaan haar verstand te bowe om een uit 1 000 leerders te wees wat die voorreg het om ’n ander land se topuniversiteite te besoek. Sy hoop dat die toer haar kennis sal verbreed en dat sy nuwe maniere van leer sal ontdek.

Die toer sluit besoeke aan universiteite en private lesings in, maar die leerders kry ook die geleentheid om van Australië se bekendste besienswaardighede te besoek.

Wat haar die meeste opgewonde maak, is om uit te vind hoe dinge in Australië werk. “Ek wil hul manier van dinge doen sien en leer ken,” sê sy.

“Ek was baie gelukkig toe ek hoor ek kry die kans om op die toer van my lewe te gaan,” sê Jayden.

Op die program is onder meer Monash University, Federation University en die Australian National University, asook die Sydney Opera House, Sydney Habour Bridge en Bondi Beach.

Jayden sê hy sien meestal daarna uit om die universiteite te besoek en die natuur in Australië te beleef. “Ek wil baie graag meer leer oor die geskiedenis van die land, die natuur en die universiteite wat daar beskikbaar is.”

Sy droom is om ’n siviele ingenieur te word en hy beplan om ná skool in dié rigting te studeer.

Jade sê sy wil graag die bekende Sydney Opera House besoek en wil elke plek wat hulle gaan besoek, in haar herinneringe stoor, sodat sy dit vir altyd sal onthou.

Ná skool wil sy graag in die mediese rigting studeer.

Die toer word deur Travel and Sport aangebied en is deel van die twaalfde jaarlikse Stadio-akademiesepresteerderstoer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article