Die Hoër Jongenskool se tromlyn word reeds 14 jaar deur Berdine Goldstone, ’n musiekonderwyseres en bestuurder van die tromlyn, gelei. Foto: Ernest Kilowan

Paarlse skole wys talent in stadion

Die Hoër Jongenskool se tromlyn word reeds 14 jaar deur Berdine Goldstone, ’n musiekonderwyseres en bestuurder van die tromlyn, gelei. Foto: Ernest Kilowan

Die rugbyveld by Faurestraat-stadion het Vrydag (11 September) ’n verhoog vir jong Paarlse talent geword toe leerders van drie plaaslike skole tydens die oefenwedstryd tussen die DHL Stormers en Vodacom Bulls opgetree het.

New Orleans Sekondêre Skool (Noss) se pom-pomspan en La Rochelle se dansgroep het gedans, terwyl die Hoër Jongenskool se tromspelers ook opgetree het.

Noss se pom-pomspan bestaan uit leerders van gr. 8 tot 12 en het voor die wedstryd ’n agt minute lange dansuitvoering gelewer.

Bernelee Fortuin, ’n onderwyser en afrigter van die span, sê Noss is deur Drakenstein-munisipaliteit genader om tydens die wedstryd op te tree.

Die leerders het volgens Fortuin onmiddellik ná die uitnodiging begin oefen en het ná skool soms tot 16:00 of 17:00 geoefen.

“Dit is die eerste skool in Paarl-Oos wat die geleentheid kry om by so ’n groot wedstryd op te tree,” sê Fortuin.

Volgens haar het die optrede die leerders die geleentheid gebied om hul talent op ’n professionele platform ten toon te stel.

“Dit is ’n eerste vir die skool en selfs vir die leerders. Hulle voel geëerd en trots om op te tree op so ’n besondere platform,” sê sy.

La Rochelle se dansgroep het ook voor die groot rugbygehoor opgetree.
Kirsty Nel, die danskoördineerder en afrigter van die La Rochelle-dansgroep, sê die spesifieke dans is reeds sedert Mei voorberei.

Die dansers het die afgelope paar maande aan verskeie eisteddfods deelgeneem en een van dié danse tydens die wedstryd uitgevoer.

Nel sê die dansers was baie opgewonde toe hulle hoor hulle gaan voor so ’n groot gehoor optree.

Hande geklap

“Die leerders was vir seker ’n klein bietjie senuagtig, maar grotendeels was hulle opgewonde en die adrenalien het vir seker ingeskop,” sê sy.

Nel sê die skare het luid gejuig en hande geklap terwyl die meisies gedans het. “Ek het vir seker ook ’n paar stemme ‘go, Larries’, hoor skree.”

Sy meen die kombinasie van danspassies en musiek het die optrede besonders gemaak, met hip-hop, funk, vryslag, amapiano en gimnastiekelemente.

Volgens Nel het die voorbereiding vir die optrede sonder uitdagings verloop. Die skool se ligging langs die stadion het toegang vergemaklik.

“Dit was vir ons ’n groot voorreg,” sê Nel.

Larries se dansers het ook die week vantevore aan die Tygerberg Internasionale Eisteddfod deelgeneem. Nel sê dit was vanjaar haar doelwit om die leerders aan soveel geleenthede moontlik bloot te stel.

“Hierdie optrede was ’n groot eer aangesien ons met welbekende rugbyspelers ’n rugbyveld kon deel.”

Nel sê sy is veral trots op die dansers se tegniek, aandag aan detail en vermoë om as ’n groep saam te werk.

Volgens haar het die groep die afgelope jaar goud plus en cum laude by verskeie eisteddfods verower en wag hulle tans op hul nasionale uitslae.

“Ek is besonder trots om deel van hierdie leerders se dansreis te wees. Ek is vir seker die trotsste dansjuffrou in die Paarl,” sê Nel.

Die Hoër Jongenskool se tromlyn word reeds 14 jaar deur Berdine Goldstone, ’n musiekonderwyseres en bestuurder van die tromlyn, gelei.

Die groep werk deur die jaar aan sy vaste repertorium, terwyl al die musiek wat hulle uitvoer deur die lede self geskep word.

Goldstone sê dit is altyd ’n bron van trots om te sien hoe die tromlyn die gees van ’n geleentheid beïnvloed.

“Hoewel daar meer toeskouers is met Interskole, was Vrydag ’n heerlike optreegeleentheid en die manne het, soos altyd, hul beste gegee,” sê sy.

Sy sê dit was ook besonders om die oudleerder Evan Roos ná die optrede saam met die groep op ’n foto te sien.

Volgens Goldstone wys die geleentheid hoe die skool se musiek- en sportdepartemente mekaar kan aanvul en ondersteun.

“Boishaai bied balans,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article