Netbal Interdistriktoernooi. Augsburg Landbougimnasium se netbalfamilie het rede tot groot trots. Sewe verteenwoordigers van Augsburg dra hierdie week die Weskus se kleure by die Wes-Kaap Netbal Interdistriktoernooi. Dit word tans aangebied by Hoërskool Bredasdorp.
Vyf Augsburg-spelers is vir die Weskusspanne gekies – ’n merkwaardige prestasie wat die skool se sporttradisie bevestig. ’n Spesiale eer het Marni Louw (o.18) en Nina Bosman (o.11) te beurt geval toe hulle as kapteine van hul onderskeie spanne aangewys is.
Die Augsburg-betrokkenheid strek verder as die spelers: Juf Lara Visser dien as afrigter van die o.18 Weskusspan, terwyl Juf Nicola Koen as skeidsregter by die o.17-toernooi optree. Hulle deelname beklemtoon die hoë standaard van afrigting en skeidsregting wat by Augsburg gevestig is.

“Die skoolgemeenskap stuur ’n hartlike sterktewens aan Marni Louw, Nina Bosman, Jacolin Kammies, Juane van Zyl, Quinette Fryer, Juf Lara Visser en Juf Nicola Koen. Augsburg staan vierkantig agter hulle en glo dat hierdie toernooi kosbare herinneringe en nuwe vriendskappe sal bring.“
- Een span.
- Een droom.
- Een Augsburg.







You must be logged in to post a comment.