Hoërskool Eldoraigne, Centurion, is baie trots op Melindi de Bruin. Eldo wens haar geluk met haar uitmuntende prestasie by die Gauteng-streek se Ritmiese Gimnastiekkompetisie op 14 Augustus.
Melindi het haar talent en vasberadenheid bevestig deur ’n 1ste plek in al drie roetines – bal, lint en klubs – te behaal. Sy is aangewys as die algehele wenner van Vlak 10, sowel as die Gauteng-streek se Vlak 10-kampioen.
Hierdie glansryke prestasie het haar die eer besorg om haar Gauteng-konfederasiekleure vir Ritmiese Gimnastiek te verwerf. Sy kwalifiseer nou vir die Nasionale Ritmiese Gimnastiekkampioenskappe, wat van 24–29 September in Kaapstad plaasvind.
Die Eldo’s is ongelooflik trots op jou, Melindi – jou prestasie is ’n inspirasie en ’n trotse oomblik vir die hele skoolgemeenskap!
Foto verskaf






