Oos-Kaap – Hoërskool Despatch vier met trots die merkwaardige prestasies van vier van sy talentvolle atlete. Hulle is op 28 Oktober 2026 by die gesogte EPA 2026 Prysuitdeling by Centerstage, Baywest, vereer. Die leerders is vir hul uitsonderlike prestasies op provinsiale en nasionale vlak erken en het die skool se naam met trots uitgedra.
Onder die vereerdes was Dylan Viviers, wat erkenning ontvang het vir sy bronsmedalje in hamergooi by die ASA-kampioenskap. Sy toewyding en volgehoue harde werk het hom as een van die land se belowende jong atlete gevestig.
Jana Oelofse het besonder indrukwekkend presteer. Sy het ‘n goue medalje in meisies o.16-hamergooi by die ASA Junior Kampioenskap verower. Jana is die Oos-Kaapse rekordhouer in dié item en is verder aangewys as die Track & Field Sub-Youth Sportvrou van die Jaar.
Nog ‘n uitblinker, Tianie de Lange, is vereer vir haar silwermedalje in meisies o.16-hamergooi tydens die ASA Junior Kampioenskap. Haar prestasie getuig van uitstekende talent en deursettingsvermoë.
Die hoogtepunt van die aand was die erkenning wat Juane Schuin ontvang het toe sy as die 2026 Track & Field Youth Sportvrou van die Jaar aangewys is. Hierdie gesogte toekenning beklemtoon haar uitstaande bydrae tot atletiek gedurende die afgelope jaar.
Hierdie prestasies weerspieël die harde werk, dissipline, toewyding en passie wat hierdie jong sportsterre daagliks uitleef. Hoërskool Despatch is besonder trots om sulke uitsonderlike talent binne sy skoolgemeenskap te hê.
Hoërskool Despatch wens Dylan, Jana, Tianie en Juane van harte geluk met hul welverdiende erkenning. Hulle prestasies dien as inspirasie vir mede-leerders en is ‘n bewys dat deursettingsvermoë en toewyding groot belonings oplewer.
Hoërskool Despatch se atletieksterre laat die skool se naam hoog vlieg en hul suksesverhaal is ongetwyfeld nog lank nie klaar geskryf nie.
https://www.facebook.com/p/Ho%C3%ABrskool-Despatch
Foto’s verskaf






