Tamim Alam, Matrikulant van die Jaar 2026.
Tamim Alam, Matrikulant van die Jaar 2026. FOTO: Charl Devenish

Grey-kollege spog met vanjaar se Matrikulant van die Jaar


BLOEMFONTEIN – ‘n Passievolle krieketspeler en waardige leier van Grey-kollege (sekondêr) is Dinsdagaand op ‘n spoggeleentheid aangewys as 2026 se Matrikulant van die Jaar.

Tamim Alam is deur ‘n paneel beoordelaars uit die topmatrikulante as die 45ste Matrikulant van die Jaar aangewys. Die kompetisie word aangebied deur die Universiteit van die Vrystaat en Novus Media.

Braam van Wyk (links) wens vir Tamim Alam
Die skoolhoof van Grey-kollege (sekondêr) Braam van Wyk (links) wens vir Tamim Alam geluk ná die aankondiging dat hy 2026 se Matrikulant van die Jaar is. FOTO: Lientjie Mentz

Matrikulante van 15 skole oor die land heen het vanjaar om dié gesogte titel meegeding.

LEES OOK: Matrikulant van die Jaar | Hier is die topkandidate in gesogte kompetisie.

Die finaliste is van Maandag 5 Oktober af bymekaargebring vir deelname aan die eindronde, waarin Tamim te midde van uitblinker-kandidate as die topmatrikulant na vore getree het. 

Topfinaliste Matrikulant van die jaar
Die topfinaliste wat aan die eindronde deelgeneem het, is van links is Jana Ross (Hoërskool Hennenman), Nana Amoah (Hoërskool Bloemfontein), Inke Rademeyer (Hoër Meisieskool Oranje), Lienka Stevens (Eunice High School), Kani Khoarani (Eunice), Francois Cilliers en Tamim Alam (Grey-kollege), Stephan Uys (Hoërskool Witteberg), Emri van Zyl (Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark), Jenna du Plessis (Oranje), Danelle Conradie (Hoërskool Hartswater), Sumari Eksteen (Witteberg) en Gloria Nkosana Lawson Brown High School in Gqeberha). FOTO: Charl Devenish

Jenna du Plessis van die Hoër Meisieskool Oranje is aangewys as vanjaar se vonkelpersoonlikheid en Francois Cilliers, ook van Grey-kollege, is aangewys as vanjaar se uitblinker in sport.

Braam van Wyk, skoolhoof van Grey-kollege, sê Tamim is ‘n ware leier wat respek afdwing en alle mense met respek behandel. “Hy is ‘n goeie voorbeeld van ‘n Grey-leerder. Ons is baie trots op hom,” het hy op die geselligheid by Monte Bello gesê.

Jeannine van Zyl (Novus Media, links) en regs is Nomonde Mbadi
By Tamim Alam, die 45ste Matrikulant van die Jaar (middel) is Jeannine van Zyl (Hoof van Premium Publikasies en Inhoud: Novus Media, links) en regs is Nomonde Mbadi (Direkteur van Studentewerwing by die Universiteit van die Vrystaat). FOTO: Lientjie Mentz

Tydens die finale beoordeling is die finaliste onder meer deur verteenwoordigers van die borge ondervra. Die kompetisie se ouditeure, Forvis Mazars, was deurentyd teenwoordig om toe te sien dat die beoordelingsproses glad en regverdig verloop.

Die Kovsie-Alumni Trust is weer die hoofborg van die kompetisie met ’n bydrae van R125 000. Ander borge is Absa (R120 000), Pick n Pay Preller Walk (kombuisware vir die finaliste) en Forvis Mazars (R35 500).

Die wenner ontvang R25 000 se prysgeld ná registrasie in 2027 in ’n Absa-rekening, asook ’n
R15 000-studiebeurs van UV-Studentewerwing.

Elkeen van die finaliste ontvang R13 000 se prysgeld ná registrasie, ’n R10 000-studiebeurs en ander geskenke van die borge, terwyl die semifinaliste elkeen R6 000 se prysgeld en ’n R5 000-studiebeurs van die UV ná registrasie in 2027 ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article