PRETORIA – Bergfiets MTB Interprovinsiale Finaal. Cobus Hagg, ’n leerder van die Gereformeerde Skool Dirk Postma, het op 2 en 3 Oktober met trots sy skool en provinsie verteenwoordig. Hy het aan die SA Hoërskool Bergfiets (MTB) Interprovinsiale Finaal 2026 deelgeneem. Cobus het vroeër vanjaar gekwalifiseer om Gauteng se kleure te dra.
Die gesogte byeenkoms het van die land se beste jong bergfietsryers byeengebring. Cobus het hom uitstekend van sy taak gekwyt. Die eerste dag van die kampioenskap het hy ‘n 13de plek behaal teen sterk nasionale mededinging.
Tydens die tweede dag van die kompetisie het Cobus as lid van die Gauteng-span deelgeneem. Hy het sy deursettingsvermoë en vaardigheid op die uitdagende roete ten toon gestel. Hy sluit die dag af met ‘n indrukwekkende 12de plek. Die prestasie beklemtoon nie net sy talent as bergfietsryer nie. Sy harde werk, dissipline en ure se toegewyde oefening help hom om op hierdie vlak mee te ding.
Die feit dat Cobus die geleentheid gekry het om Gauteng op nasionale vlak te verteenwoordig, getuig van sy konstante goeie prestasies deur die seisoen. Dit bevestig sy vermoë om tussen van die land se voorste skoolryers mee te ding.
Gereformeerde Skool Dirk Postma is uiters trots op Cobus se prestasie en die wyse waarop hy die skool se naam uitgedra het. Baie geluk Cobus met hierdie besonderse prestasie. Die skool wens hom alle sterkte toe vir die res van sy bergfietskarrière en vertrou dat daar nog vele suksesverhale op hom wag.
Foto’s verskaf






