Die Con Spirito-sanggroep van die Hoër Meisieskool Oranje het Maandagaand skitterend presteer. Hulle het drie toppryse by die nasionale eindronde van die nuwe ATKV Sêr-kompetisie in die Kaap ingepalm.
Die sanggroep, wat vir die geleentheid die humoristiese tema van “Kieries en Crocs” aangebied het, het met hul besonderse verhoogteenwoordigheid en musikale presisie die beoordelaars én die gehoor beïndruk. Ondanks die oulike en skertsende “gekreukelde” tema, het die leerders bewys dat hul vertoning vol energie, dinamika en skop was.

Tydens die ATKV Sêr-kompetisie is Oranje se sanggroep by die glansgeleentheid as die algehele nasionale wenners in drie sleutelkategorieë aangewys:
- Beste produksie: Erkenning vir die algehele konseptualisering, verhoogskep en visuele aanbieding van hul vertoning.
- Beste musikaliteit: Vir die tegniese akkuraatheid, vokale beheer, harmonieë en musikale versorging.
- Beste ensemblewerk: Vir die uitsonderlike samespel, eenheid en balans tussen die verskillende lede op die verhoog.
Die ATKV Sêr-kompetisie bied ’n platform vir skole landwyd om hul unieke vokale en verhoogtalente ten toon te stel. Oranje se indrukwekkende prestasie onderstreep weer eens die skool se langste bestaande tradisie van uitnemendheid op kulturele en musikale gebied.
Meisieskool Oranje het hul trots op die sanggroep uitgespreek en hul bedank vir die toewyding en harde werk wat tot dié nasionale triomf gelei het.
Foto en video verskaf







You must be logged in to post a comment.