Die gemeenskap van Broadlandspark in Strand het gister (Dinsdag 21 April) die jong musikant Thato “Imali” Maile (16) tydens ‘n geëer, wie se lewensvlam te gou geblus is.
“Oral waar mense hom geken het, was hulle lief vir my broer, omdat hy ‘n respekvolle mannetjie was,” het Samuel Selebano gesê. “As hy vir iemand iets wou doen, het hy dit uit liefde gedoen.”
Die diens is by sy ouerhuis in Wildegansweg gehou – net ‘n entjie van waar hy Saterdagaand 11 April noodlottig gesteek is.
Terwyl die ondersoek voortduur, sukkel Selebano steeds om sin te maak van die verlies van sy broer, wat volgens hom nog nie sy hoogtepunt bereik het nie. “Dit maak my hartseer, man,” het hy gesê en bygevoeg hy kyk met liefde terug op sy broer se lewe – een gevul met passie. “Hy was ‘n mannetjie wat elke dag musiek gemaak het,” verduidelik Selebano.
Maile se lewe het sedert sewejarige ouderdom rondom ritme en musiek gedraai. Hy het in 2024 besluit om skool te verlaat om musiek as loopbaan na te streef, nadat dit hom meer geroer het as die akademie.
Sy liefde vir musiek het hom na die Online Boys CPT gelei – ‘n groep jong mans van Broadlandspark, wat ‘n subgenre van Gqom maak. Tussen hulle het hy eendersdenkendes gevind wat sy passie vir musiek gedeel het.
Die invloed wat Maile op sy vriende gehad het, is duidelik in ‘n video op Facebook. Lede van die groep het gedeel hoe hulle saam grootgeword het en hoe hy dikwels ‘n mentor vir hulle was. “Hy het baie kennis gegee en het my baie geleer,” het een lid gesê. Vandag is my broer nie hier nie.”
Die groep het Maile se herinnering met kragtige woorde vereer: “Legends die, but the legacy never ends.”
Musiek was egter nie die enigste vaardigheid wat Maile ontwikkel het nie. Selebano sê sy broer het ‘n praktiese vaardigheid nodig gehad en hy het hom onder sy vlerk geneem om hom as timmerman op te lei. “Die vaardighede wat ek het, het ek vir hom geleer vir sy toekoms, wanneer ek nie meer die dag hier is nie,” het Selebano gesê.
Dit was dié werk wat hulle na Wolseley in die Kaapse Wynlande geneem het. Hulle het slegs elke twee weke na Strand teruggekeer het. Dis tydens een van hierdie besoeke wat die tragedie toegeslaan het.
Selebano onthou die laaste keer wat hy sy broer gesien het, met pynlike duidelikheid. Hulle het dié aand by die huis aangekom en Maile het winkel toe gestap. “Hy sou daarna gaan musiek maak,” het Selebano onthou.
Dít was die laaste normale gesprek tussen die broers.
Op pad huis toe van die winkel af, het ‘n man, wat volgens Selebano aan sy broer bekend was, hom gesteek. “Ek het alles gesien gebeur,” het hy gesê.
‘n Gewonde Maile het na sy broer gehardloop en gesê: “Ek kan niks voel nie.” “Dit was sy laaste woorde, wat ek saam met my dra,” het Selebano gesê.
Die Strand-polisie bevestig ‘n minderjarige is in hegtenis geneem en die ondersoek deur voort.
Maile word Saterdag 25 April ter ruste gelê.





