SALDANHABAAI – Die Vryheidsfront Plus-raadslid in die Saldanhabaai Munisipaliteit (SBM) beskuldig die plaaslike regering van versuim om ‘n bestaande munisipale verordening (by-law), wat buitelug-advertensies en naamborde beheer, toe te pas.
Volgens Raadslid Anton Jansen, die Vryheidsfront Plus se enigste partylid in die SBM-raad, is verskeie politieke plakkate vir die onlangse plaaslike verkiesingsregistrasie in Junie steeds nie van lamppale langs paaie en strate in die SBM-gebied verwyder nie.

“As raadslid het ek die betrokke saak al sedert einde Junie onder die SBM se aandag gebring. Ek het dié versuim telefonies by die munisipaliteit se wetstoepassers aangemeld. Niks het egter gebeur nie. Daarna het ek ‘n skrywe aan ‘n direkteur gestuur. Nadat die plakkate steeds nie verwyder is nie, het ek op 6 Julie ‘n amptelike skrywe aan Heinrich Mettler, die munisipale bestuurder, gestuur en vir optrede en toepassing van die munisipaliteit se eie verordening gevra.”
Die munisipale verordening waarna Jansen verwys, bepaal dat plakkate, baniere, vlae en ballonne langs openbare paaie en in openbare plekke, binne twee dae ná ‘n betrokke gebeurtenis/geleentheid verwyder moet word.
Die eerste nasionale kieserregistrasienaweek vir die 2026-plaaslike regeringsverkiesing het reeds verlede maand, op 20 en 21 Junie, plaasgevind.
“Die DA se plakkate, met die party se logo, pryk steeds op lamppale in verskeie dorpe. Ten spyte van ons versoek om die verordening toe te pas soos die wet vereis, is dit steeds nie verwyder nie. Dit wek ernstige vrae oor die konsekwente en onpartydige toepassing van die munisipaliteit se betrokke verordening.

Die verordening maak nie voorsiening vir ‘n uitsondering of ander verwyderingsperiode vir stemregistrasie of politieke plakkate nie,” sê Jansen.
Volgens hom eis die Vryheidsfront Plus ‘n dringende verduideliking van die munisipale bestuurder oor die saak. “Hoekom is die betrokke verordening nie afgedwing nie? Die moontlike indruk word hiermee geskep dat sekere politieke partye dalk toegelaat word om munisipale verordeninge te ignoreer, sonder gevolge. Die integriteit van munisipale wetstoepassing is afhanklik van die gelyke toepassing van die wet vir alle individue en organisasies, ongeag van politieke verbintenis.”
Weslander het gaan kyk of die Vryheidsfront Plus se beswaar en kommer oor dié aangeleentheid enige water hou.
Besoeke op Sondag 12 Julie aan dorpe soos St. Helenabaai, Vredenburg, Saldanha, Jacobsbaai en Langebaan het getoon dat dié party wél rede het om te kla.

Politieke plakkate van die DA, wat reeds op 25 Mei opgesit is, pryk inderdaad steeds oral teen lamppale, veral in Jacobsbaai, Saldanha en Langebaan.
Volgens die Vryheidsfront Plus het dié party al sý plakkate vir die Junie-registrasie betyds verwyder soos die munisipale verordening vereis.
Die Verkiesingskommissie (OVK) het sedertdien ‘n tweede landwye kieserregistrasienaweek aangekondig wat op 1 en 2 Augustus sal plaasvind.






You must be logged in to post a comment.