Uitgereik deur kykNET
Een van Suid-Afrika se mees inspirerende en unieke sportstories is op pad na plaaslike televisieskerms landwyd: The Philipstown WireCar Grand Prix begin Sondag 8 November om 20:30 as ’n driedelige dokumentêre reeks op kykNET (DStv-kanaal 144) en SuperSport Extra (DStv-kanaal 210).
Dié dokumentêr is vir die gerekende Tribeca X-fees gekeur en het onlangs ’n 2026 Internasionale Emmy-benoeming in die kategorie vir sportdokumentêre ontvang. Nou is dit spesiaal verwerk tot ’n driedelige dokumentêre minireeks eksklusief vir DStv-kykers.
Die afgelope 16 jaar bied die afgeleë Noord-Kaapse dorpie Philipstown ’n merkwaardige jaarlikse geleentheid aan wat die hartklop van die gemeenskap geword het: die Draadkar Grand Prix. In dié opwindende wedren van 3,2 km jaag deelnemers deur die dorp se stofstrate met handgemaakte draadkarre. Hulle ding mee om plaaslike roem in wat heel moontlik die enigste wedren van sy soort ter wêreld is.
Die hartklop van ‘n gemeenskap
Hoewel die geleentheid lank reeds ’n bron van ontsaglike trots vir die mense van Philipstown is, het die res van die wêreld kwalik daarvan geweet. Dit het in 2025 verander toe The Philipstown WireCar Grand Prix-dokumentêr internasionaal onder groot lof gedebuteer het en gehore se verbeelding aangegryp het met ’n kragtige mengsel van sport, innovasie en menslike veerkragtigheid.
Aan die hart van die reeks is agt vasberade tienerdeelnemers wat hulself, en hul handgemaakte draadkarre, voorberei op die belangrikste wedren van die jaar. Oor maande volg kykers hul persoonlike reise van ambisie, vriendskap, kreatiwiteit en deursettingsvermoë terwyl hulle daarvan droom om eerste oor die wenstreep te jaag.
Maar dit is baie meer as net ’n sportstorie.
Teen die agtergrond van die Karoo se strak skoonheid verken die reeks ’n gemeenskap wat ’n eenvoudige kinder-tydverdryf in ’n gevierde jaarlikse tradisie omskep het. Dit is ’n verhaal van vindingrykheid, hoop en moontlikhede, waarin weggooigoed en rommel renmasjiene word. Daardeur ontdek jongmense selfvertroue, betekenis en ’n plek waar hulle tuishoort.
“Ons wou bitter graag die Philipstown-verhaal aan ’n breër Suid-Afrikaanse gehoor vertel. Dit is ’n ongelooflike, egte Afrika-storie en ’n diep inspirerende een daarby. Ek dink kykers moet ’n paar snesies byderhand hou en gereed wees om die volle spektrum van emosies te ervaar,” sê Alistair King, ondervoorsitter van die Philipstown WireCar Foundation.
Die span agter die dokkie
Onder regie van Ward van Giant Films kombineer die produksie intieme dokumentêre storievertelkuns met skouspelagtige visuele ambisie. Die reeks maak van rekenaargegenereerde beelde (CGI) gebruik wat deur die Oscar-bekroonde visuele-effekte-ateljee Accenture Song Studios (Mackevision) in Hamburg geskep is in samewerking met die Suid-Afrikaanse VFX-spesialiste Chocolate Tribe. Gehore sal die stem van die internasionaal bekende Formule Een-kommentator Alex Jacques herken, en die Suid-Afrikaanse rugby-ikoon Siya Kolisi is in ’n kameeverskyning te sien.
Met beeldskone kinematografie, opwindende wedrentonele en ’n diep roerende menslike storie maak die verwerkte reeks van die oorspronklike dokumentêr ’n meesleurende televisie-ervaring. Die emosionele impak word versterk deur ’n oorspronklike klankbaan wat deur Pressure Cooker in samewerking met Muneyi geskep is, met klankontwerp deur The Workroom.
Die resultaat is ’n reeks wat nie net ’n opwindende kompetisie vier nie, maar ook die veerkragtigheid van ’n gemeenskap en die merkwaardige potensiaal van sy jeug.
Die wêreldwye aandag wat die projek getrek het, het gelei tot die stigting van die Philipstown WireCar Foundation, wat nou die draadkarkultuur bevorder en verskeie ontwikkelingsprogramme vir kinders in die gemeenskap dryf.
The Philipstown WireCar Grand Prix word met trots aangebied deur Shell.
The Philipstown WireCar Grand Prix begin op Sondag 8 November om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en SuperSport Extra (DStv-kanaal 210) en eindig op Sondag 22 November. Die reeks sal ook op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) wys vanaf Vrydag 13 November om 21:00 tot 27 November, met ’n omnibus-uitsending op Sondag 29 November om 20:00 op kykNET&kie.
