Uitgereik deur VIA
Van wildplase en wynkelders tot huise met persoonlikheid: VIA (DStv-kanaal 147) nooi kykers uit om in November nuwe plekke te ontdek en ook bekendes selfs nog beter te leer ken.
Twee nuwe reekse, Dis wild en Meer as net ’n poskode, neem kykers onderskeidelik agter die skerms van die wildbedryf en oor die drumpels van interessante Suid-Afrikaners se huise.
Gesels met Leandie du Randt keer terug vir ’n tiende seisoen met familiebande as tema, Frank Rautenbach toets sy staal in Hier sit die manne se 14de seisoen, en JP Quickelberge klink die glase vir Kelderklas se derde seisoen.
Gesels
Ma’s en dogters, trotse pa’s, egpare en tweelingbroers kom kuier in die tiende seisoen van Gesels. Dié keer bring die gastelys ’n besonderse familie-element na die gesprekke, met talle bekende gesigte wat saam met van die mense naaste aan hulle verskyn.
Therese Bam en haar vyfjarige seuntjie, Jack, is eerste aan die beurt, gevolg deur Ira Blanckenberg en haar dogter, Dhania Schultz. Hirome Shigeaki, ’n deelnemer aan Die brug, is ook onder die seisoen se gaste.
Kykers kan verder uitsien na Sherlin Barends en haar pa, Lionel, Annie Klopper en haar seuntjie, Jax de Wet, asook egpare Lorcia en Ramey Short, Kurt en Dunay van Heerden, en Mila en Bennie Fourie.
Yolani en Maggie Abrahams, Simoné Pretorius en Tinkie Nortmann, Lindie en Nina Strydom, en die talentvolle tweelingbroers Marco en Marcel Spaumer maak ook hul verskyning.
Marisa van der Merwe, ’n ma van drie, kom gesels ook oor haar besluit om ’n surrogaatma te word. Sy het Lindy en Kris Snyman ná jare van teleurstelling gehelp om hul dogtertjie, Olivia Jane, te verwelkom.
- Die tiende seisoen van 13 episodes, met Lamelle as hoofborg, begin op 7 November en word Saterdae om 18:00 uitgesaai.

VIA se program Gesels se aabieder Leandie du Randt
Dis wild
Wat verg dit om Suid-Afrika se wildbedryf aan die lewe te hou? In die nuwe reeks Dis wild reis Shari Kennedy van luukse lodges in die Oos-Kaap tot die uitgestrekte Kalahari om die mense agter die wêreld van die wildbedryf te ontmoet.
Wildboere, veeartse, veldwagters en families wys hoe hul werk by bewaring, toerisme en werksgeleenthede aansluit. In die Karoo beleef Shari hoe wild gevang en verskuif word, terwyl renosterbewaarders en teenstropingspanne haar nader aan die daaglikse uitdagings van bewaring bring.
Die reeks verken ook telery, gereguleerde jag en volhoubare benutting van beskikbare bronne.
Op Bona-Bona leer Shari ’n wildplaasgesin ken, en by die Groot Kalahari Veiling sien kykers hoe voorbereiding, waarde en kompetisie byeenkom. Langs die pad ontvou persoonlike stories oor mense wie se bestaan en erfenis ten nouste met die grond verweef is.
- Die reeks van ses episodes begin op 12 November en word Donderdae om 20:00 uitgesaai.

In die nuwe reeks Dis wild reis Shari Kennedy om die mense agter die wêreld van die wildbedryf te ontmoet.
Hier sit die manne
Frank Rautenbach verwelkom weer gaste met merkwaardige lewensverhale in die 14de seisoen van Hier sit die manne. Van rugbyvelde tot die Tour de France en die oop oseaan: Dié seisoen se gesprekke verken wat dit verg om aan te hou wanneer die pad moeilik raak.
Die Blitsbok Ricardo Duarttee, ook bekend as Tricky Ricky op die veld, vertel hoe hy sy motor verkoop het om ’n kans by ’n rugbyakademie te kry. Juan de Jongh deel sy rugbyreis. Reinardt Janse van Rensburg vertel van sy pad na ses Tour de France-deelnames, en Vasti Manser gesels oor haar roeivaart van Marokko na New York.
Shari Kennedy kom kuier ook saam om oor haar avonture met Dis wild te praat.
Frank verruil boonop die aanbiederstoel vir ’n brandweeruitdaging in Can Frank survive? Kykers sien hoe hy saam met brandweermanne oefen en moet uitvind of hy by hulle kan byhou.
Herstel ná oefening kry ook aandag, terwyl Dinamika praktiese geldadvies deel, Jannie Putter oor onder meer selfvertroue en die hantering van druk gesels, en De Klerk Oelofse vir tuinmaakinspirasie sorg.
- Die 14de seisoen van 13 episodes, met Bob.co.za as hoofborg, begin op 14 November en word Saterdae om 17:00 uitgesaai.

Frank Rautenbach verwelkom gaste met merkwaardige lewensverhale in die 14de seisoen van Hier sit die manne.
Meer as net ’n poskode
’n Poskode vertel jou waar iemand woon, maar wat maak daardie plek ’n tuiste? Die nuwe reeks Meer as net ’n poskode nooi kykers om saam te kuier en die mense, huise en omgewings agter die adres te ontdek.
In Stellenbosch maak Kabous Meiring die deur na haar wêreld oop. Tussen boeke, kuns en persoonlike ruimtes leer kykers haar tuiste ken, voordat die kuier ook na die dorp en omliggende landskap uitbrei.
Elke besoek bied só ’n blik op ’n plek deur die oë van iemand wat daar woon.
Die roete sluit kuiers by Nicky Coetzee in Welgemoed, Heike Hayward in die Paarl, Lise van Schoor in Tamboerskloof en Gera de Wet in Robertson in. Verder wag plekke soos Seepunt, Koringberg, Swellendam en Riebeek-Kasteel, elk met sy eie karakter en mense, om verken te word.
- Die reeks van 13 episodes, met Lifta as borg, begin op 23 November en word Maandae om 19:30 uitgesaai.

Die nuwe reeks Meer as net ’n poskode nooi kykers om saam te kuier en die mense, huise en omgewings agter die adres te ontdek.
Kelderklas
JP Quickelberge is terug vir ’n derde seisoen van Kelderklas met wynplaaskuiers, bekende gaste en dié keer ook wynervarings by feeste.
Die seisoen begin in die Hemel-en-Aarde-vallei met ’n besoek aan Creation, en daarna Benguela Cove aan die Botrivier-strandmeer. Dit is parstyd, en JP sal dalk self moet hand bysit.
Saam met Braam Steyn gaan kuier hy by Villion in Botrivier voordat hulle die dag by La Vierge afsluit.
Kykers besoek ook onder meer Escape Wine, Spookfontein en Wildekrans. Innibos se wyntent, Blomme & Bubbles in Paternoster en die Woordfees in Stellenbosch bring die feesgees na die reeks.
Die seisoen eindig by Paul René in Robertson, waar JP meer leer oor die toets van suiker vir die perfekte Cap Classique. Dis ’n uitnodiging om saam te proe, te leer en die mense agter die wyn te ontmoet.
- Die derde seisoen van sewe episodes, met Mr K as hoofborg, begin op 15 November en word Sondae om 20:30 uitgesaai.

JP Quickelberge is terug vir ’n derde seisoen van Kelderklas met wynplaaskuiers, bekende gaste en dié keer ook wynervarings by feeste.
Ander VIA-gunstelinge
Herman Lensing hou in November aan om vir VIA-kykers die vraag “Wat eet ons vanaand?” te beantwoord met Herman se halfuur, Dinsdae tot Donderdae om 17:30. Saam met Food Lover’s Market deel hy toeganklike resepte, bekende geure en praktiese kosmaakwenke.
Aneeka Papier sorg vir nóg kookinspirasie wanneer sy Maandae om 17:30 saam met bekende gaste in Aneeka se kombuis kuier.
Die 20ste seisoen van Huisgenoot: Ware lewensdramas gaan Maandae om 20:00 voort met aangrypende ware stories wat kykers nader aan die mense en gebeure agter die opskrifte bring.
Maak my ’n miljoenêr bereik op 16 November om 19:00 sy seisoen-eindstryd. Kykers kan steeds saam met Leon Gropp in Huis SOS projekte aanpak en met Sumarie Jordaan in Verander jou siening ander mense se leefwêrelde leer ken.
Dorpie-doenlys, Die beste in die Noorde en Padel in die bloed neem die kuiers verder. Keyter vir almal, Hart op soek en Kom ons braai: Familie en vriende sorg vir nóg geselskap, stories en vermaak.
Al die programme is op VIA (DStv-kanaal 147) te sien, met heruitsendings deur die week. Besoek www.viatv.co.za vir die volledige uitsaaiskedule en meer inligting.
Lees ook: VIA se reisende padelreeks wys die hart van ’n pa-en-seun-span | rooi rose
