’n Brilraam is veel meer as net iets waarin jou lense pas. Dit sit prominent op jou gesig, beïnvloed jou voorkoms en word deel van hoe mense jou onthou.
Jou oë is van jou gesig se mees kenmerkende eienskappe en word dikwels die vensters na die siel genoem. Daarom kan dit vreemd voel om jouself met ’n bril te sien as jy gewoond is aan jou weerkaatsing daarsonder. Die geheim is om ’n raam te kies wat nie net goed pas nie, maar ook jou gelaatstrekke komplementeer en jou persoonlikheid weerspieël.
Die vorm van jou gesig maak saak
Die regte brilraam skep ’n gevoel van balans en harmonie met jou gesig. Jou gelaatstrekke en gesigvorm kan jou help om ’n raam te kies, maar gemak en persoonlike smaak is net so belangrik.
As jy groter, meer prominente gelaatstrekke het, kan ’n groter raam mooi daarmee in verhouding wees. Met fyn, kleiner gelaatstrekke kan ’n kleiner raam weer beter pas. Soms is die rame in die kinderafdeling selfs ’n opsie vir volwassenes met besonder klein gesigte.
Posisie en diepte
Hoe hoog of laag jou bril op jou gesig sit, beïnvloed die algehele indruk wat dit skep.
Het jy ’n lang gesig? ’n Raam met dieper lense kan help om jou gesig se lengte visueel te balanseer. Baie vlak rame kan die lengte meer beklemtoon.
Het jy ’n korter gesig? ’n Minder diep raam kan help om jou gesig nie nog korter te laat lyk nie. ’n Slanker of reghoekige raam is dalk ’n goeie beginpunt.
- ‘n Langer gesig verleen hom na dieper lense vir balans. Foto: Cottonbro Production, Pexels
- ‘n Korter gesig kan eerder brille probeer met minder diep rame, meer reghoekige brille, of brille sonder die onderste raam. Foto: Kaweny Denyele, Pexels
Doen ook die glimlagtoets wanneer jy ’n bril aanpas. Die raam behoort nie op te skuif of teen jou wange te druk wanneer jy glimlag nie. Dit is veral belangrik dat die bril gemaklik sit en dat die lense korrek geposisioneer is.

Dis belangrik dat die raam nie skuif wanneer jy glimlag nie, veral wanneer die bril getoets is en multi-fokaal is.
Raamwydte is belangrik
Ideaal gesproke behoort die raam se breedte by die breedte van jou gesig te pas. ’n Te smal raam kan teen jou slape druk of aan die kante uitsteek, terwyl ’n te breë raam jou gelaatstrekke uit balans kan laat lyk.
Let ook op waar jou oë binne die lense sit: Hulle behoort goed met die raam in verhouding te wees, en die bril moet gemaklik en stabiel op jou neus rus.
Laat jou wenkbroue die rigting aandui
Die boonste rand van jou brilraam kan jou wenkbroue komplementeer deur hul natuurlike kurwe of reguit lyn te volg. Probeer verskillende style om te sien wat die mooiste raamwerk vir jou oë skep.
RR-wenk: ’n Raam met ’n donkerder boonste rand en ligter onderste rand kan die aandag na jou oë en wenkbroue trek. Katoograme het dikwels ’n soortgelyke effek danksy hul opwaartse buitelyne.
- Hierdie bril volg ook die kontoer van die man se wenkbrou. Brille met ‘n donkerder raam bolangs, en ‘n ligter raam onder om, trek ook die oog boontoe vir ‘n jeudiger voorkoms.
- Katoograme kan die illusie van jeug skep omdat die vorm die oog trek na die bokant van die gesig toe. Foto: Mikhail Nilov, Pexels
Moenie jou oë wegsteek nie
Jou bril behoort jou oë te beklemtoon, nie te oorheers nie. Let op hoe die raam jou oë omraam en of dit jou natuurlike uitdrukking behou. Die posisie van jou oë binne die lense is ook belangrik vir ’n goeie pasvorm en optimale sig. ’n Oogkundige of optometris kan help verseker dat die raam en lense reg geposisioneer is.
Neem jou neus in ag
Die brug van die raam speel ’n belangrike rol in hoe die bril op jou neus sit. Die vorm en hoogte daarvan kan jou neus se voorkoms visueel beïnvloed, maar die belangrikste is dat die bril gemaklik en stewig sit sonder om te gly of drukmerke te laat.
Kies ’n raam wat by jou persoonlikheid pas
Jou bril is ook ’n manier om jou styl uit te druk. Hoekige rame skep dikwels ’n meer dramatiese, treffende voorkoms, terwyl ronde en ovaal rame sagter kan vertoon. As jy ’n ronde gesig het, kan meer hoekige rame ’n interessante kontras skep, terwyl ’n katoograam ’n speelse, elegante voorkoms gee.
Dink ook aan kleur. Jou veltoon, haarkleur, persoonlike styl en klerekas kan jou help besluit of jy by neutrale skakerings wil hou of eerder ’n kleurvolle raam wil kies.
- Vierkantige, katoog- en aviator-brilrame. Foto: Angela Lopez, Pexels
- Katoograme met kleurvolle skulpversierings. Foto: Vooglam Eyewear, Unsplash
- Geometriese ontwerpe is tans ‘n gewilde ontwerpstyl. Foto: Vooglam Eyewear
Brilmodeneigings vir lente/somer 2026
Brille kry vanjaar ’n kleurvolle nuwe voorkoms. Benewens sagte, romerige neutrale kleure, is rooi, oranje, groen, blou en geel ook gewild.

Pantone se kleur van die jaar is Cloud Dancer. Dis ook ‘n gier vir brille. Wit is egter nie ‘n kleur wat almal so op hul gesigte kan dra nie. Foto: Peter Miranda, Unsplash
Klein, reghoekige rame soos dié uit die jare negentig maak ’n sterk terugkeer, terwyl klassieke aviator- en katoogstyle steeds gewild is. Die bekende silhoeëtte kry nuwe lewe deur vars kleure en interessante materiale, waaronder houtrame en rame van herwinde plastiek.
Uiteindelik is die beste bril nie noodwendig die een wat die jongste neiging volg nie, maar die een wat gemaklik sit, by jou leefstyl pas en jou soos jý laat voel.
Bron: Spectacle World & Mullers Optometrists
Lees ook: Gesogte Bravo! Revlon-styltoekennings vir Rolanda, Gloria en Gert | rooi rose







