Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts CanonR6
As die stilte van ’n stillewe skielik tot lewe kom deur die vloeiende lyne van ballet, word jou sintuie onmiddellik deur pure vreugde oorgeneem. Tydens die afgelope Toyota Stellenbosch Woordfees het When Still Life Breathes ’n unieke en meesleurende opvoering opgelewer.
Dié uitsonderlike projek – ’n kreatiewe vennootskap tussen Strauss & Co, Cape Ballet Africa, die talentvolle visuele kunstenaar Gabrielle Kruger en La Motte-wynlandgoed – was ’n hoogtepunt op die feesprogram wat kunsliefhebbers se hartsnare diep geroer het.
Gabrielle Kruger en tasbare skilderkuns
Gabrielle is ’n Kaapstadse beeldende kunstenaar wat bekend is vir haar unieke, tasbare benadering tot die skilderkuns en die verkenning van die natuur en omgewingsvrae. In plaas daarvan om verf bloot op ’n doek aan te wend, behandel sy verf as ’n driedimensionele, beeldende medium: sy giet, sny en weef lae geakkumuleerde akrielverf om ingewikkelde, amper lewendige teksture te skep.
Haar werk beweeg op die grens tussen skilderkuns en beeldhouwerk, met temas wat dikwels strek van die broosheid van die Suid-Afrikaanse plantegroei (soos fynbos) tot die impak van die mens op die omgewing en die klimaatstelsel. Deur die grens tussen kunsmatige materiaal en natuurlike vorms te vervaag, nooi sy die kyker uit om oor die verhouding tussen mens, kunsmatigheid en die natuurlike wêreld te besin.
Die opvoering, wat by die historiese Oude Leeskamer in Dorpstraat aangebied is, was veel meer as net ’n blote vertoning: Dit was ’n sintuiglike reis waarin die grense tussen verskillende dissiplines vervaag het.

Gabrielle Kruger vertel aan gaste meer oor haar werk.
Die sintuiglike reis
Met water wat in ‘n klein leivoortjie deur die vierkant loop en die reuk van vars blomme wat swaar in die lug hang, omsoom die eikebome die historiese gewels van omliggende geboue.
Die gedekte tafel word met kuns, musiek, wyn en kos tot ’n lewende komposisie omgetower. Waar ’n stilskildery tradisioneel vasgevang is in ’n statiese oomblik van tyd en ruimte, het sy en die geselskap van Cape Ballet Africa hierdie tradisionele konvensies uitgedaag – objekte wat eens in stille afwagting vasgevang was, begin asemhaal en nooi gaste uit na ’n sintuiglike onthulling waar sig, klank, smaak en herinneringe ineenvloei.
Deur lewendige teaterskilderye (“performance painting”) het sy haar visuele teks voor die gehoor laat ontvou, terwyl die dansers met grasieuse, dramatiese bewegings die vorms, skadu’s en emosies van die doek vertolk het.
- Die middag het ‘n bietjie stilte en kalmte in die gejaag gebring, terwyl kuns, musiek en ballet op ’n buitengewone manier hande neem.
- Die kunswerk op die tafel deur Gabrielle het perfek ingeskakel met die middag se uitvoering.
- Niks stil aan hierdie pragtige stillewe-uitbeeldings nie …
Die ervaring van kuns
Binne die ruimtes van Oude Leeskamer het Strauss & Co kunswerke van ons grootste meesters soos Maggie Laubscher en Irma Stern vertoon en buite het die balletdansers tussen gaste beweeg met meesleurende musiek wat onder die bome en tussen vonkelwynglase getalm het. Strauss & Co was ’n silwer borg van die fees.
Die produksie was ’n viering van die lewe self. Die dansers het ’n byna mitiese asem geblaas in elemente wat gewoonlik roerloos op ’n tafel of doek agterbly.
Wat hierdie ervaring werklik afgerond het vir Woordfeesgangers met ’n voorliefde vir fyn lewenskuns, was die aandag aan detail en gasvryheid. Gaste is getrakteer op La Motte se bekroonde vonkelwyn en keurige peuselhappies, wat die gastronomiese tema perfek laat aansluit het by die visuele fees vir die oë.
When Still Life Breathes was ’n kragtige herinnering dat kuns nie net iets is om na te kyk nie, maar iets om te voel, te proe en in te asem.
- Gaste is trakteer op koue La Motte Brut Cap Classique, terwyl die dansers van Cape Ballet Africa op musiekbegeleiding tussen die tafels deurgestap het.
- Die musikant Stanislav Angelo wat ook stigter van die CT Tango Ensemble is, se meesleurende trekklavierklanke was die perfekte klankbaan vir die middag.
Lees ook: Woordfees woel tot Sondag in die Eikestad | rooi rose





