Verskaf deur kykNET
In Oktober op Skemergrond draai die stories in Gemoedsdrif om keuses waarvan die gevolge veel verder strek as wat die betrokkenes dalk besef. Van Christine se komende troue en Sonja se groeiende agterdog oor Rynard tot Lily en Genie se onsekere toekoms, wag daar moeilike besluite, onverwagse wendings en nuwe uitdagings op die inwoners van die dorp.
Christine se troue is nie sonder komplikasies nie
Christine se toekoms saam met Rynard lyk aanvanklik belowend, maar sy word al hoe dieper by sy toekomsdroom ingetrek.
Haylee probeer haar waarsku om nie blindelings na Rynard se raad te luister nie, terwyl Christine self ’n skokkende besluit neem oor die video van Hazel en Fabian. Christine se planne vir die troudag laat die spanning verder oplaai, veral wanneer Lily daarvan te hore kom.
Sonja begin ook vermoed dat Rynard meer as een plan in gedagte het en stel hom voor ’n ultimatum. Met die Louws wat op hete kole is oor wat op die groot dag kan gebeur, is dit duidelik dat die pad na die troue nie sonder uitdagings gaan wees nie.

Christine se toekoms saam met Rynard lyk aanvanklik belowend, maar sy word al hoe dieper by sy toekomsdroom ingetrek. Foto: kykNET
Lily en Genie maak ’n groot besluit oor hulle toekoms
Lily en Genie se verhouding neem ’n onverwagse wending. Ná ’n rampspoedige afspraak probeer Genie die skade herstel, terwyl Lily vir Amber wil wys dat sy haar keuse gemaak het en vir Genie bo Ruan gekies het. Hulle verhouding neem ’n ernstiger wending en die twee besluit oor hulle toekoms. Maar ’n onskuldige gebaar van Genie ruk die mat onder Lily en Ruan se voete uit.

Lily en Genie se verhouding neem ’n onverwagse wending. Foto: kykNET
Ragel se toneelstuk sorg vir drama agter die skerms
Op die verhoog is daar ook geen tekort aan drama nie. Winnie is woedend oor die einde van Ragel se toneelstuk, terwyl Manny betrap word waar hy weddenskappe op die produksie reël.
Ragel glo dat die spanning uiteindelik opgelos is, maar die konflik tussen Jasmine en Winnie dwing hulle om weer die verlede in die gesig te staar. Namate die oorsprong van hulle konflik aan die lig kom, word dit duidelik dat die probleme rondom die toneelstuk nog lank nie verby is nie.

Winnie is woedend oor die einde van Ragel se toneelstuk, terwyl Manny betrap word waar hy weddenskappe op die produksie reël. Foto: kykNET
Skemergrond is van Maandag tot Donderdag om 19:30 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145) te sien. Dit is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos in Oktober op VIA | rooi rose
