
rooi rose Oktober 2026-voorblad
‘Ons vier mekaar’
Hulle sing die land aan die brand, is mal oor die verhoog en diep dankbaar vir hul talente. In ‘n musiekbedryf wat baie klein en mededingend is, voel Leah, Franja en Bernice baie sterk daaroor dat hulle mekaar moet vier eerder as om vir die kollig te veg.
- Franja
- Bernice
- Leah
Van Vosloorus na New York
Die modeontwerper David Tlale gesels oor sy nederige begindae en hoe ‘n kombinasie van talent en harde werk hom op internasionale modeplanke laat beland het.

David Tlale
Magogo van die nasie: ‘Ek wil hê Suid-Afrika moet werk’
Suid-Afrika se ystervrou, Helen Zille, vertel meer oor hoekom sy steeds in Suid-Afrika glo, haar vurige veldtog en haar liefde vir haar kleinkinders.

Helen Zille. Foto: Hendri Viljoen
Plomper met peptiede
Peptiede is die nuwe in ding. Jy sien dit op elke rak en hoor oral op sosiale media daarvan, maar is dit iets wat ons in ons roetine nodig het? Ons raadpleeg ‘n kenner, Biomedical Emporium se biomediese wetenskaplike en stigter Dr Judey Pretorius, en delf dieper.

Dr Judey Pretorius
‘Ek leef steeds’
Wat gebeur ná ‘n selfdoodpoging as die persoon oorleef het? Dis die stil deel van die storie waaroor min mense praat: jy leef nog, maar álles het verander. Die vrae, die skaamte, die verwarring en om dan weer te moet leef nadat jy alles sorgvuldig afgesluit het. Marettha Botes het met ‘n oorlewende en ‘n kenner gesels.
Lig & lekker
Veelsydigheid is mos die sleutel wanneer dit by ‘n goeie dieet kom. Hou dinge interessant met iets vir elke smaak en elke geleentheid. Ons deel resepte vir, onder andere, hoender, pasta en soesji.
Iets soets vir die siel
Drie heerlike resepte vir wanneer net iets soets sal werk – maklik genoeg vir enige dag, maar spesiaal genoeg om te deel.
Maak ‘n kolletjieskoek, gesonde bruintjies of ‘n Biscoff-yskastert.
My held en my bestie
Vanjaar se ma-en-dogter-kompetisie het weer alle verwagtinge oortref. Met soveel inskrywings het ons beoordelaars nie ‘n maklike taak op hande gehad nie, want elke inskrywing het ‘n storie gehad. Die ma-en-dogter-kompetisie gaan nie oor die uiterlike nie, maar oor die ma en dogter se spesiale verhouding. Ons wenners, Christelle en Salomy Jacobs, deel hul verhaal.
Verloor en vind jou siel op Route 66
Dit is die mother road, of Route 66, se 100ste bestaansjaar, en terwyl Maryke Roberts die roete via neonbeligte hotelle, motelle en padkafees verken het, het sy besef wat hierdie pad in Amerika so belangrik gemaak het.
Lekker lees
Ons gesels met Irma Joubert, die doyen van Afrikaanse historiese fiksie, oor Rebekka van Kameldoornplaas wat pas verskyn het. Réna Rauch vertel hoe haar debuutroman, Beauty, ontstaan het, terwyl Frenette van Wyk haar bybelroman Om weer te dans opsom.

Irma Joubert
Lees ook: Sumarie Jordaan: Ons is álmal net mense | rooi rose















