“Hy was my engelkind.” Dis hoe Karen Beukes (55) van Robertson haar jongste seun, wyle Branwin Beukes (17), beskryf.
Branwin is Sondag-oggend (26 April) oorlede kort nadat hy in die middernagtelike ure van Saterdagnag in ‘n motorongeluk betrokke was.
Hy was ten tyde van sy dood ‘n graad 10-leerder by Langeberg Senior Sekondêre Skool in Robertson.
‘n Hartseer Karen sê aan Standard Breederivier Gazette dat sy Sondagoggend nog geslaap het toe ‘n kollega van haar by Robertson-hospitaal haar omstreeks 03:00 wakker gebel het met die nuus dat Branwin by die hospitaal opgeneem is nadat hy in ‘n motor-ongeluk betrokke was. Sy sê die kollega het haar meegedeel haar seun is ernstig beseer.
Volgens Karin het die ongeluk gebeur toe Branwin saam met vriende op pad terug was huis toe nadat hulle die vorige dag ‘n rugbywedstryd in Ashton bygewoon het.

Karin sê toe sy by die ongevalle-afdeling van die Robertson-hospitaal instap en sien dat die gordyn rondom haar seun se hospitaalbed toegetrek is, toe kry sy ‘n snaakse gevoel. Volgens haar het mediese personeel haar kort hierna meegedeel Branwin is oorlede.
“Ek het gegil en aanhoudend gehuil. Ek het die heeltyd net gesê ‘dit kan nie wees nie’.”
Volgens Karin het haar seun skraapmerke aan sy gesig gehad en sy kop was effens geswel. “Dit het gelyk of hy slaap.”
Volgens haar het sy Branwin die Saterdagmiddag omstreeks 12:00 nog laas lewend gesien kort voor hy na Ashton vertrek het. Sy sê hy was in ‘n vrolike bui. “Voor hy weg is Ashton toe het ek nog vir hom gesê hy moenie daar [in Ashton] oorbly omdat ons die volgende dag ‘n family gathering sou hê.”
Karin sê behalwe dat haar seun kaptein van die o.16-rugbyspan by HSkool Robertson was, het hy ook uitgeblink in atletiek. Volgens haar was Branwin ook nou betrokke by sy kerk.
‘n Roudiens word eerskomende Donderdagaand (7 Mei) om sewe-uur vir Branwin in die VGK Robertson Moederkerk gehou. Sy begrafnisdiens is Saterdagoggend (9 Mei) om nege-uur by sy ouerhuis by Lakaystraat 5, Robertson, en 10:00 in die VGK Robertson Moederkerk.
Langeberg Senior Sekondêr sê op die skool se Facebook-blad die volgende oor Branwin: “Branwin was meer as net ‘n leerder – hy was ‘n vriend, ‘n lig en ‘n inspirasie vir almal wat hom geken het. Sy glimlag en vriendelike geaardheid het ‘n blywende indruk op ons harte gelaat.”
Volgens sers. Wesley Twigg, ‘n polisiewoordvoerder, ondersoek die polisie ‘n saak van strafbare manslag.
Pogings om die familie van die tweede oorledene in dieselfde ongeluk, ‘n 42-jarige vrou, op te spoor, was onsuksesvol.






You must be logged in to post a comment.