‘n Bankier van Riebeek-Wes en ‘n hawelose man, wat die strate van Kaapstad sy huis noem, het verlede week die kollig by die Springbokke se oorwinning teenoor die Barbarians gesteel nadat iets eenvoudig soos ‘n mooi gebaar hoofopskrifte gehaal het.
Dit volg nadat Johan Kotze (58), ‘n inwoner van Riebeekvallei, besluit het om sy ekstra kaartjie vir die regstreekse toets by die DHL-stadion in Groenpunt op Saterdag 28 Junie vir Alan Strydom (49), beter bekend as Luigi, te gee.
Kotze, ‘n ywerige Springbokaanhanger, vertel dat sy vriend by wie hy aanvanklik die kaartjies gekry het, kon nie meer saamgaan nie. Hy kon ook nie betyds iemand kry om saam met hom die toets tussen die Springbokke en die Baa-Baas te gaan kyk nie.
Dit het hom egter nie gekeer om sy weg na die historiese kragmeting te vind nie.
Dit het liggies begin reën terwyl Kotze na die stadion gestap het. Hy het besluit om onder ‘n brug by die sirkel naby die stadion skuiling te soek eerder as om in die koue in die lang ry tot die ingang na die stadion te staan.

Daar het hy Luigi naby die sirkel by McDonalds, bedek met ‘n swartsak, gewaar en met hom begin gesels. Luigi was reg om hom – soos elke aand – vir die nag daar tuis te maak.
Luigi het aan Kotze vertel hoe hy altyd na die gedreun van die skare luister, maar nog nooit self die voorreg gehad het om die Springbokke regstreeks daar te sien speel nie.
Sy kennis oor die Bokke het Kotze geweldig beïndruk en hy het vinnig besef dié man is lief vir sy sport – soveel so dat Kotze daar en dan besluit het die ekstra kaartjie behoort aan Luigi.
Dit was vir Kotze ‘n emosionele dog vrolike oomblik toe hy en sy nuwe “vriend” hul sitplekke op die pawiljoen ingeneem het. Kotze het intussen ook gehoor Luigi is ‘n oudonderwyser.
Kotze het kort voor die wedstryd ‘n video van Luigi geneem, waarin hy meer oor homself vertel het. “Ek woon in die park by Seepunt. Om te oorleef, gaan ek elke Sondag kerk toe. Hulle gee my darem koffie, melktert en ystervartjies.”
Hy het gesê hy is op soek na werk, is nie ‘n misdadiger nie en hou baie van rugby. Dit was die eerste keer dat hy die die Springbokke sien speel het.
Die ervaring sal Kotze altyd bybly en hy het Luigi beloof om hom vir toekomstige wedstryde by sy slaapplek naby die stadion te gaan haal.




You must be logged in to post a comment.