Die man wat verantwoordelik gehou word vir die verwoestende brand wat in Januarie vanjaar by die Paarl-hospitaal uitgebreek het, is vir verdere psigiatriese evaluasie gestuur.
Dit volg nadat die beskuldigde, Morné Dampies, voorverlede Donderdag (7 Mei) weer in die hof verskyn het, en ’n aansoek voor die hof gebring is.
Dampies is aangekla vir brandstigting nadat hy na bewering ’n vullisdrom na aan die hospitaalgebou op 27 Januarie aan die brand gesteek het. Die vlamme het vinnig van die drom na die gebou en voertuie wat naby parkeer was, versprei, met ooggetuies wat die voorval voorheen aan Paarl Post bevestig het.
Daar word beweer dat Dampies ten tyde van die voorval ’n pasiënt in die hospitaal se psigiatriese afdeling was.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het die aansoek vir die psigiatriese evaluasie bevestig.
“Ek is nie seker of die psigiatriese evaluering van die beskuldigde uitgevoer is nie. Dit sal op die volgende hofverskyning uitkom,” het hy by navraag gesê.
In Maart het die Wes-Kaapse minister van gesondheid en welstand, Mireille Wenger, gesê die brand het heelwat ontwrigting by dié gesondheidsfasiliteit veroorsaak. Sy het toe bevestig dat die herstelwerk die departement altesaam R67 miljoen sal kos.
Dinsdag (19 Mei) het Wenger gesê die restourasie is nou byna voltooi, met groot infrastruktuurherstelwerk wat reeds afgehandel is.
“Toe die brand in Januarie uitgebreek het, was die aanvanklike verwagting dat die restourasie tot 12 maande kon duur. In plaas daarvan, deur ’n geweldige poging van ons spanne, is groot restou- rasiewerk in net ses maande voltooi en dienste keer reeds na herstelde areas van die hospitaal terug,” het Wenger gesê.
“Hierdie werk het nog altyd oor meer gegaan as om net ’n gebou te herstel. Dit gaan oor die herstel van toegang tot sorg en die ondersteuning van die gesondheid en waardigheid van elke persoon wat van die Paarl-hospitaal afhanklik is,” het sy gesê.
Die saak teen Dampies is op 4 Junie weer op die Paarl-landdroshof se hofrol.






