‘n Skietvoorval op ‘n plaas in die Robertson-distrik het Maandagmiddag (17 Augustus) tragies geëindig.
Na wat verneem word is een persoon laatmiddag noodlottig gewond tydens ‘n tweede skietery op die plaas. Die persoon se identiteit kon nog nie amptelik bevestig word nie.
Standard Breederivier Gazette wag nog op bevestiging van die polisie hieroor.
Die gebeure spoel glo uit ‘n skietvoorval Sondagaand (16 Augustus) waartydens ‘n polisiesersant ook gewond is.
Sers. Wesley Twigg, ‘n polisiewoordvoerder vir die Wes-Kaap polisie, het vroeër Maandag – voor die beweerde noodlottige skietvoorval plaasgevind het – gesê dat die Robertson-polisie die omstandighede rondom ’n skietvoorval Sondagaand (16 Augustus) omstreeks 20:15 op ’n plaas in Robertson waartydens ’n polisiesersant gewond is, ondersoek.
Hy sê die polisie is met hul aankoms op die toneel aangeval.
Volgens Twigg is drie polisievoertuie beskadig.
Hy sê die motief vir die aanval vorm deel van die polisie-ondersoek.
Voor die beweerde noodlottige skietvoorval Maandagmiddag, het Twigg gesê die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord, ’n saak wat verband hou met ’n aanval op die polisie en kwaadwillige beskadiging van eiendom.
Verdere navrae is aan die Wes-Kaap polisie gestuur. Hul terugvoering sal bygewerk word sodra dit ontvang word.





