VrystaatKroon

Plaasaanvalle in die Vrystaat weer in die kollig ná twee aanvalle die naweek

'n Bejaarde vrou is die naweek ernstig beseer na 'n plaasaanval in die Vrystaat.
‘n Bejaarde vrou is die naweek ernstig beseer na ‘n plaasaanval in die Vrystaat.

BULTFONTEIN – Vrystaat Landbou het diepe skok en ontsteltenis uitgespreek ná twee plaasaanvalle wat die afgelope naweek in die Vrystaat plaasgevind het waartydens ’n bejaarde boervrou en ’n boer ernstig beseer en aangerand is.

In die eerste voorval is ’n 72-jarige vrou, wat alleen in die Bultfontein-omgewing boer, op Vrydag 16 Januarie omstreeks 18:00 in haar woning oorrompel en wreed aangerand. Die aanvaller het haar daarna in die kattebak van haar eie motor toegesluit en in die rigting van Bloemfontein gery. Naby Soutpan het die voertuig onklaar geraak, waarna die aanvaller die vrou in die kattebak langs die pad agtergelaat het.

Die vrou het bykans ’n volle dag lank in snikhete weer in die kattebak deurgebring voordat sy Saterdagmiddag ontdek is. ’n Polisiebeampte van Bultfontein het die voertuig reeds Saterdag om 07:45 opgemerk, maar eers later omstreeks 17:15 ondersoek ingestel toe hy weer by die toneel verby is. Hoewel hy nie aan diens was nie, het hy ondersoek ingestel. Toe die boervrou voetstappe hoor, het sy om hulp geroep en is sy uiteindelik bevry. Sy was uitgeput, gedehidreer en erg getraumatiseer.

In ’n tweede voorval is ’n 56-jarige boer van die Clocolan-omgewing op Sondag 18 Januarie omstreeks 18:00 in sy plaashuis deur drie aanvallers oorrompel en ernstig aangerand.

Een van die aanvallers wou hom glo skiet, maar is deur ’n medepligtige gekeer. Die boer is daarna herhaaldelik met messe gesteek. Die aanvallers het met kontant en vuurwapens gevlug. Die slagoffer kon homself loswikkel en na die plaaswerkers se huise beweeg, waar hulle hom gehelp het en die owerhede ontbied het.

Vrystaat Landbou het sy dank en waardering teenoor die polisie uitgespreek vir hul vinnige optrede in albei sake. Die ondersoek duur voort.

Plaasaanvalle in 2025:

Volgens dr. Jane Buys, veiligheid-risikoanalis van Vrystaat Landbou, is 27 plaasaanvalle en sewe plaasmoorde in die Vrystaat gedurende die 2025-kalenderjaar aangeteken. In die sewe plaasmoord-voorvalle is een boer, een besoeker en vyf plaaswerkers dood. Slegs in vyf van die sake is al die verdagtes inhegtenis geneem. Altesaam ses plaasaanvalle is in Desember in die Vrystaat aangemeld.

Van die 27 plaasaanvalle het 12 boere – in sommige gevalle saam met hul eggenotes – en 12 plaaswerkers, insluitend veiligheidswagte en veewagters, slagoffers geword.

In drie gevalle is besoekers of ander bewoners op plase ook geteiken. Bloemfontein, Clarens, Smithfield, Virginia, Warden en Wepener is waar die meeste plaasaanvalle voorgekom het.

“Ons doen weer ’n dringende beroep op alle boere, oud en jonk, om aktief deel te vorm van hul plaaslike veiligheidstrukture, insluitend plaaswagte, radiosisteme en ander veiligheidsinisiatiewe,” sê Buys.

“Veiligheid kan nie geïgnoreer of uitgestel word nie. Samewerking en waaksaamheid is tans ons enigste skild teen hierdie gruweldade.”

Vrystaat Landbou doen weer ’n beroep op owerhede om landelike veiligheid as ’n prioriteit te hanteer en om toe te sien dat voldoende hulpbronne, mannekrag en daadwerklike optrede – soos vervat in die Nasionale Landelike Beveiligingstrategie – toegepas word.

“Die lewe, waardigheid en veiligheid van boere, hul gesinne en plaaswerkers kan nie langer as onderhandelbaar beskou word nie,” meen die organisasie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article