youngpark sandpit stoei
Die Laerskool Youngpark sal 18 van sy leerders sien stoei in die kampioenskappe. Foto: Argief

GQEBERHA – Die Laerskool Youngpark in die Baai het opnuut die oë laat rek deurdat ‘n verstommende 18 van sy leerders in die OP-span ingesluit is wat op 27 en 28 Maart aan die Suid-Afrikaanse strandkampioenskappe op Jeffreysbaai deelneem.

Wat dié prestasie só merkwaardig maak is dat die leerders net ses maande gelede aan die sport bekend gestel is.

“Ja, dis verstommend, maar ‘n bewys van die ontsaglike talent by ons skool. Tydens die vorige naweek se OP-proewe in ons sandpit het ons stoeiers behoorlik na ‘n hoër rat oorgeskakel en gewys ondanks ‘n gebrek aan ervaring dat hulle goed genoeg is om die land se bestes aan te durf,” sê die afrigter, JP Botha.

youngpark sandpit stoei
Musa Davashe en Imange Nkosiyaphantsi kry mekaar in ‘n greep beet terwyl JP Botha toekyk. Foto: Verskaf

“Ons as onderwysers bars van trots. Hier leef elke stoeier sy passie behoorlik uit. Hulle mis geen oefensessie nie en oefen gereeld met groot oorgawe. Hulle vra ook gereeld vrae en raad hoe om hul tegniek te verbeter.”

Botha sê hulle sit die moeite en ure in die sandpit in en is ‘n belewenis om hulle dop te hou. Hy sê hy verwag uitstekende vertonings van ‘n hele paar stoeiers en glo as onbekendes sal sy stoeiers die X-faktor na die kampioenskappe bring.

Youngpark se stoeiers wat die OP die eerste keer sal verteenwoordig, is:

  • Seuns: Diego Kohl, Hlumolwakhe Mpanda, Imange Nkosiyaphantsi, Mogamat Demaine, Wonel’umusa Davashe, Uyintando Magoqoza, Nikolai Ndyova en Ulwazise Ndlovu.
  • Meisies: Skyler Johnson, Siyema Mzalazala, Alunamda Juda, Achuma Kopsani, Lafezwa Ntakwetu, Elethu Ntakwethu, Keanah-Lee Plaatjies, Hlumanande Mbaba, Hlelolenkosi Mbaba en Hlelokhule Mbaba.

“Die Jeffreys-toernooi is ons wegspringplek. Daarna begin ons voorberei vir die Suid-Afrikaanse Grieks-Romeinse kampioenskappe in Gauteng, en daarna die SA jeugkampioenskappe op 2 en 3 Oktober in die Kaap. Ja, dis ‘n besige jaar wat voorlê,” sê Botha.

LEES OOK: Laerskool Youngpark spog nou met eie sandpit vir stoei

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article