In ‘n eerste ooit by die SPAR Kirkwood Wildsfees sal daar ‘n Friesperd-vertoning deur Ikahan Quistador-stal van Glentana aangebied word. Hier is Amos Charles wat een van Ikahan Quistador-stal se friesperde hanteer.

Heilie Combrinck

DIE Oos-Kaap se unieke SPAR Kirkwood Wildsfees gaan omtrent wild gaan in Junie met die grootste getal nasionale en plaaslike kunstenaars wat gaan optree, meer as 350 spesialisstalletjies én die aanbieding van een van die provinsie se top-wildveilings.

Die fees vind vanaf Vrydag 29 Junie tot Sondag 1 Julie plaas.

Selfs Vader Kersfees en sy elfies gaan ’n spesiale rit na die fees onderneem.

“Geen ander fees het die spesiale sfeer soos dié van die SPAR Kirkwood Wildfees nie,” sê Alan Stapleton, aankoopbestuurder : nie-voedselprodukte, borgskappe en gebeurtenisse, SPAR Oos-Kaap.

“Dié fees roep vriende en familie hard én trots nader om hier in samesyn die ondernemingsgees, passie en toewyding van die wye spektrum van kunstenaars en stalletjie-aanbod te beleef en met mekaar te deel.”

“Die goeie nuus vir die feesgangers is dat ons daarin kon slaag om die toegangsprys dieselfde as dié van verlede jaar te hou,” voeg Jenni Honsbein, feesdirekteur, by.

“Op Saterdag sal daar omtrent ’n fees van musiek wees wanneer 11 kunstenaars optree. Baie van hierdie kunstenaars sal ook vir die eerste keer óf by die Wildsfees, óf in die Oos-Kaap optree, óf hulle het ’n hele aantal paar jaar nie in die Oos-Kaap opgetree nie,” sê Honsbein.

Dié kunstenaars sluit in immergewildes soos Laurika Rauch, Adam Tas en Koos Kombuis op Sondag, 1 Julie, Fatman en Caroline Grace op Vrydag, 29 Junie en Blackie Swart, Jan Bloukaas, Michael Lindt en Tussen Sterre op Saterdag, 30 Junie.

Nóg ’n eerste vir die Wildsfees is dat besoekers vanjaar met hul krediet- of debietkaarte toegangsgeld kan betaal, danksy die betrokkenheid van Capitec by die Wildsfees. Volgens Vanessa Rossouw, streeksbemarkingsbestuurder van Capitec, sal stalletjiehandelaars ook Capi-tec-kaartlesers vir transaksies kan gebruik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article