Die PE Express/ATKV Skoon-projek het tot ’n einde gekom.
Vir drie maande het ons tien wenners items van plastiek, papier en glas herwin en is hul herwinbare rommel een maal ’n maand deur ’n herwinningsmaatskappy opgetel.
Ons gesels vir ’n laaste maal met nóg wenners van die kompetisie om te hoor hoe hul die herwinningsreis ondervind het.
1. Hoekom het jy vir die SKOON-kompetisie ingeskryf?
Candice Clover: Ek wou inskryf om my herwinning te verbeter en om my gesin by die huis deel van hierdie belangrike aksie te maak.
Johanna Swanepoel: Ek het ingeskryf omdat ek baie lief is vir my omgewing. Ek wil dit graag bewaar vir die toekoms. Ons het soms herwinbare items na die stortingsterrein geneem. Ek het ook daarvan gehou toe ons by Hartenbos gekamp het en ons sakke ontvang het om te herwin.
Wikus Olivier: Ons herwin al ’n geruime tyd vir die Laerskool Kabega en neem ons huis-houdelike herwinning daarheen. Ons het nie houers tuis nie en die herwinningsdromme wat ons dus kon wen sou dit vergemaklik om die glas en plastiek te stoor by die huis.
2. Watter twee herwinbare items het jy gekies om te herwin, en hoekom?
Candice Clover: Ek het plastiek en papier gekies. Die redes hoekom ek hierdie twee gekies het, is omdat ons meestal hierdie twee items weggooi en omdat plastiek so groot oorsaak is van besoedeling.
Johanna Swanepoel: Plasiek en papier. My man bak beskuit en ons het baie plastiekbottels en papiersakke om te herwin. So ook karton en my hart is seer om dit net weg te gooi.
Wikus Olivier: Ons het besluit om glas en plastiek te herwin.
3. Hoe ondervind jy die hele herwinningsproses – is dit maklik of moeilik en hoekom?
Candice Clover: Die dromme maak die herwinningsproses soveel makliker, omdat ek weet dat ons reg ontslae raak van herwinbare materiaal en omdat ons toegang tot so iets het.
Johanna Swanepoel: Dit is maklik en ek geniet dit baie.
Wikus Olivier: Dit is maklik om te herwin en dit voel goed dat ons as gesin ’n verskil maak. Die herwinningshouers wat ons verkry het vanuit die Skoon-projek en die optel van herwinning deur Greencycle het dit nog verder vergemaklik.
4. Span jy ander mense in jou huishouding of gemeenskap in om te help met herwinning? Vertel ons bietjie meer hiervan.
Candice Clover: Ek span beslis my familie en veral die mense in my huishouding in. Die in ons huishouding gebruik gereeld ons dromme en om dit te sien maak my ’n soort trots wat ek nog nooit gedink het ek sal voel nie.
Johanna Swanepoel: Tydens ’n wedstryd tussen twee bekende skole het ek ’n kartonhouer gesien en begin om al die leë koeldrank- en waterbottels op te tel ná die wedstryd. ’n Onbekende dam het net daar en dan my begin help. Ek is ’n voogonderwyseres vir die ATKV-Rabieratels se jeugtak en ek het hulle ook ingespan om by ons skool te help met opruiming. Hulle was so entoesiasties. ’n Onderwyseres by my skool het vir my ’n hele sak leë bottels gebring. Ek wil nog in ons omgewing mense ook bewus maak.
Wikus Olivier: Ons almal in ons huishouding herwin en ons herwin ook plastiek en bottelproppies wat ons steeds skooltoe neem. Ons ouma’s en oupa’s en ander familie weet ook nou dat ons herwin deur die projek se blootstelling en stuur of bring ook herwinning vir ons.
5. Sal jy voortgaan met herwinning ná die drie maande?
Candice Clover: Definitief. Daar is nog ’n lang pad vir ons as mense om ’n verskil te maak en ek sal graag deel wil wees van daardie proses. Ek kan nie nou ophou nie!
Johanna Swanepoel: Ja, ek sal beslis.
Wikus Olivier: Ons herwin al voor die Skoon-projek en dit is dus reeds ’n leefstyl, so ons sal beslis voortgaan.
6.As jy ander mense kan motiveer om te begin herwin en die belangrikheid daarvan, wat sal jy vir hulle wil sê?
Candice Clover: Ek sal eers verduidelik wat die belangrikheid daarvan is. Ons almal het iets wat deel is van die aarde wat vir ons waardevol is. As ons praat oor hoekom ons moet herwin moet ons dit probeer persoonlik maak. So, as ek iemand motiveer vertel ek hulle oor hoe dit hulle kan bevoordeel en hoe dit die toekoms van hul waardevolle ding sal verseker. Herwinning is vir almal, ons benodig net daardie spesiale motivering.
Johanna Swanepoel: Onthou ons moet die aarde red en behou vir ons nageslag. Elke herwinbare item wat jy herwin, maak ’n verskil. Elke bottel of blikkie tel. Dit is ons verantwoordelikheid om die aarde skoon te hou en op te pas vir mens en dier.
Wikus Olivier: Indien almal hul deel doen en herwin sal dit ’n groot verskil maak. Dit maak nie saak hoe klein jou deel is nie – gesamentlik maak dit ’n groot verskil as almal saamstaan en herwin. Die voortbestaan van die aarde en sy hulpbronne is in ons hande om te bewaar.





