Van links is Petite SA finalis Chloe Berndt, Pre-Teen finalis Anda Ntlangani, Teen Miss RSA finalis Lauren Webb, Queen Miss SA finalis Bianca Visser, Pre-Teen finalis Reign Krause. Foto: VERSKAF


DIE gees loop tans hoog onder Extreme Models se meisies met vyf van hulle wat deurgedring het na die nasionale finale van die Pageants Mini Miss RSA 2021.

Hulle is Chloe Berndt (Petite Miss RSA), Anda Ntlangani en Reign Krause (albei Pre-Teen Miss RSA), Lauren Webb (Teen Miss RSA) en Bianca Visser (Queen RSA).

Hulle maak nou gereed om Gqeberha te verteenwoordig in Johannesburg vanaf 23 tot 26 September.

“Daar is baie opgewondenheid oor die voorbereiding, maar ook ’n druk en besige program vir hulle – met onderhoude, spanbou, persoonlike onderhoude met die beoordelaars, die beplanning van hul klerekas vir verskillende projekte en aanddrag vir die gala-aand,” het Veruschka Barnard O’ehley van Extreme Models, gesê.

En dit is nog net die begin. Daar is nog vrae wat beantwoord moet word op die verhoog, ’n talent-kompetisie, woordvoerder-opleiding, ’n professionele fotosessie en nog meer – en dit alles oor die tydperk van ’n paar dae.

“Hierdie platform is ’n wonderlike geleentheid en ondervinding vir hulle. Dit gee vir hulle elkeen hoop, ’n uitdaging om sterk jong dames in hul gemeenskappe te wees en hul talente uit te leef,” het sy gesê.

“Hierdie is ’n geleentheid om te groei, ’n positiewe uitkyk na Suid-Afrika daar buite uit te leef en betrokke te raak waar daar hulp nodig is. Dis baie belangrik om betrokke te wees by liefdadigheidsprojekte en om altyd te onthou dat skoonheid van binne kom.

“Om ’n geleentheid te kry om ’n rolmodel in die gemeenskap te wees, moet sy iemand wees met ’n passievolle liefde vir wat sy doen en waarvoor sy staan. Sy gee nie net haar tyd nie, maar sy gee haar uithouvermoë, en ’n oor om te luister, en goeie advies om ’n goeie burger te wees om vrywillig goeie werk te doen, en met selfvertroue en medelyde te groei in jou gemeenskap.”

Die wenners van die kompetisie gaan wegstap met kontant-pryse en die geleentheid om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article